JONKER, LOUIS CLOETE

JONKER, LOUIS CLOETE (1962–) het sy skoolloopbaan op Mosselbaai voltooi en daarna op Stellenbosch in die teologie* ge­studeer. Hy het in 1993 sy doktorsgraad in die Ou Testament* verwerf met ’n proefskrif oor eksegetiese metodologie, wat in 1998 deur Kok Pharos in Nederland gepubliseer is. Jonker was ’n predikant van die NG Gemeente Stellenbosch-Welgelegen voordat hy in 2003 senior lektor aan die Teologiese Fakulteit, Universiteit van Stellenbosch, geword het. In 2006 word hy medeprofessor. Hy is die outeur, mede-outeur of redakteur van etlike akademiese werke. In 2000 en 2006 is ’n Alexander von Humboldt-stipendium aan hom toegeken vir navor­sing in Duitsland. Onder die jonger Suid-Afrikaanse Ou-Testamentici is Jonker ’n voorloper. Sy genuanseerde sienings het meegebring dat hy van meer fundamenta­listiese* kant onder kritiek deurgeloop het, maar hy het hom in kerklike vergaderings met sukses oor sy standpunte verantwoord. Hy het die inisiatief geneem sodat die standbeeld van prof Johannes du Plessis*, “Pienk Piet”, ná ’n swerftog deur Stellen­bosch in 2006 op die terrein van Teologiese Kweekskool* ’n blywende staanplek gevind het. In 2018 is sy boek “Defining All-Israel in Chronicles” (uitgegee deur Mohr Siebeck) bekroon met die Andrew Murray-Desmond Tutuprys. Jonker was die hoofmedewerker: Ou Testament van die gedrukte Christelike Kernensiklo­pedie (CKE).                                          

Sidebar