JONKER, WILLEM DANIËL (WIL­LIE)

JONKER, WILLEM DANIËL (WIL­LIE) (1929–2006), studeer teologie* aan die Universiteit van Pretoria en promoveer in 1955 aan die Vrije Universiteit* van Am­sterdam onder GC Berkouwer*. Sy proefskrif, Mistieke liggaam en kerk in die nuwe Rooms-Katolieke teologie, sou hom voorberei vir die latere kerkstryd in Suid-Afrika. Hy bedien enkele gemeentes voordat hy in 1968 professor in praktiese teologie in Kampen, Nederland, word waarna hy van 1971–1992 etiek en dogmatiek aan die Kweekskool op Stellenbosch doseer.

In die NG Kerk*-konteks speel Jonker ’n leidende rol. Hy skryf gereelde artikels in Die Kerkbode* en versorg “Geestelike waar­des” in Die Burger.

In kerklike verband staan twee gebeurte­nisse uit. Eerstens, sy publikasie van Die Sendingbepalinge van die Ned Geref Kerk van Transvaal waarin hy reeds in 1962 aandui dat aparte volkskerke vir verskillende rasse met dieselfde belydenis nie die weg van die Skrif* is nie. En tweedens sy dramatiese belydenis oor apartheid* namens die NG Kerk en die Afrikanervolk* tydens die kerkeberaad op Rustenburg (Kyk by:Rusten­burg-beraad) in November 1990 waaroor vele hom agterna sou verguis. Sy biogra­fiese boek, Selfs die kerk kan verander (1998), gee uitstekende insig in die kerk­stryd oor baie jare.

Op teologiese gebied kan sy bydrae op drie terreine onderskei word: 1. Hy handhaaf ’n behoudende gereformeerde* teologie en gaan – anders as sy tydgenote – krities in teen die neo-Calvinisme van Abra­ham Kuyper*. Sy Inleiding in die Teologie saam met Johan Heyns* en dogmatiekreeks saam met Jaap Durand* getuig van ’n indringende kennis van die tradisie en vermoë tot eie standpuntstelling. In later jare dui Jonker aan dat, waar ’n volksteologie vroeër die gereformeerde* karakter van die NG Kerk aangetas het, dit nou weer vanuit die pentekostalisme* kan gebeur. 2. Willie Jonker is by uitstek ’n ekklesioloog*. Sy stryd teen volkskerke* en ’n ideologiese (Kyk by: Ideologie) band tussen politiek en Christelike geloof*, word uit kerklike en nie eng politieke hoek nie, benader. Daarom steun hy die Belydenis van Belhar* terwyl hy hom van bevrydings­teologie* onderskei en homself teen hulle veronderstellings uitspreek. 3. Sy werk ge­tuig van ’n ekumeniese* en intellektuele openheid in ’n tyd van toenemende teologiese en kerklike isolasie. Sy begrip vir teenoorstaande standpunte, post-Vatikaan II-Katolieke teologie, en ondersteuning van die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke* – selfs ná die NG Kerk en die NH Kerk* se skorsing daaruit in 1982 – is getuienis hiervan.

Lied 290 in Liedboek van die kerk, “Dit is my troos dat ek gedoop is”, waarvan Jonker die digter is, is ’n goeie belydenis van sy eie kinderlike geloof en sekerheid.

Jonker is met eredoktorsgrade in die teo­lo­gie vereer deur die universiteite van Stel­lenbosch en die Vrystaat. Die Andrew Murrayprys* vir teologiese publikasies is twee keer aan hom toegeken: in 1991 vir Uit vrye guns alleen en in 1997 vir Bevry­dende waarheid.

Sidebar