JOOD / JODE

JOOD / JODE, van die Hebreeuse* term jehudi (meervoud jehudim), is oorspronklik: ’n inwoner van Judea* (2 Kon 16:6), maar ook met wyer betekenis: al Abraham* se afstammelinge. Dit is vroeg reeds ’n sinoniem vir Hebreërs (Jer 34:9, ook Esra*, Nehemia*, Daniël*), by Hebreeuse skrywers maar ook in nie-Joodse tekste (bv iaudaia in Assiriese tekste) vanaf ongeveer die 8ste eeu vC.

In die Nuwe Testament* is ioudaioi (Grieks*) se meer algemene vertaling “Jode”, wat as sinoniem vir Israel* gebruik word. Jehudim/ioudaioi het ’n wyer betekenis­veld omdat diegene wat in Jesus* se tyd na hulleself as “Israel” of “Jode” verwys het, hoofsaaklik afstammelinge van die Twee­stamme-ryk, Juda*4 en Efraim/Manasse*, was in wie se identiteitsvorming Juda die oorheersende simbool was. Volgens Cohen (1999) is jehudi/ioudaios tot in die 2de eeu vC gebruik as ’n etnies-geografiese beskrywing vir ’n inwoner van Judea, maar word eers ná die Makkabese opstand teen Antio­gus* Epifanes II (Kyk ook: Judas Makka­beus) begin om dit as ’n religieuse term te gebruik vir diegene wat die God van Israel aanbid* en vir wie die tempel*2 in Jerusa­lem* die middelpunt van hulle godsdiens* was en wat hulle met die godsdiens en lewenswyse van die Jode identifiseer.

Ander wys daarop dat, hoewel in Jesus se tyd jehudim/ioudaioi meestal in die wyer betekenis (“Jode”) gebruik is, sommige skrywers die term beperk tot “Judeërs”. Craffert (2000) is oortuig dat ioudaioi in die Sinoptiese Evangelies* ses keer met “Judeërs” (nie met “Jode” nie) vertaal moet word en 70 keer in Johannes*. Dan kan baie ioudaioi se teenstand teen Jesus verstaan word as ’n gedeeltelike produk van die wantroue van Judeërs teenoor die Galileërs (vgl die diensmeisie se vraag aan Petrus* in Matt 26:69). (Kyk ook: Juda, Judaïsme.)

Die Jode het ’n haas ongelooflike geskiedenis. Hulle het in die ná-Bybelse tyd hulle identiteit as volk in ’n groot mate behou, in baie lande van die wêreld in verstrooiing hulle merk gemaak, die sg Holocoust “oorleef” (waartydens die Nazi’s 6 miljoen Jode tydens die Tweede Wêreldoorlog* doodgemaak het), en in 1948 het hulle as terugkerende Jode ’n “eie” staat, die moderne Israel, verkry. In die jare sedertdien het hulle die Joodse staat te midde van groot omstredenheid opgebou tot ’n militêre vesting wat deur niemand sonder handskoene aangepak kan word nie. (Kyk ook: Israel*7)

Vir verdere lees: SJD Cohen 1999. The Beginnings of Jewishness: Boundaries, Varieties, Uncertainties. Berkeley: Univer­sity of California. PF Craffert 2000. “Digging up Common Judaism” in: Neotestamentica 34.

 

 

Sidebar