JOPPE

JOPPE is die Griekse* naam vir Jaffa wat Hebreeus* is vir “mooi, lieflik”. Hierdie ha­we­stad aan die Middellandse See word reeds in Egiptiese* inskripsies van die 15de eeu vC genoem. In die ou tyd was Joppe veral in die hande van die Fenisiërs. Wan­neer die Israeliete* hulle in Kanaän* vestig, val Joppe buite hulle vestigingsgebied. Vanweë sy hawe is Joppe dikwels verower. In die Ou Testament* word hout vir die bou van die tempel*1 via Joppe ingebring (2 Kron 2:16; Esra 3:7). Jona* probeer om via Joppe God se opdrag te ontduik (Jona 1:3). Nadat die inwoners van Joppe hulle Jood­se* stadsgenote doodgemaak het, het die Makkabeërs (Kyk by: Judas Makkabeus) Joppe verower.

Die bou van Sesarea* deur Herodes* im­pli­seer baie konkurrensie vir Joppe. In Hand 9:36-43 bid Petrus* in Joppe vir Dorkas (Tabita*) se opwekking. Petrus gaan daar by Simon* die leerlooier tuis, waar hy oor ’n doek vol rein en onrein diere droom (Hand 10:8-20).

Tydens die Joodse* oorlog was Joppe volgens Josefus* ’n seerowersnes wat bewoon is deur Judese opstandelinge. Keiser* Vespa­sianus het Joppe verwoes en sy inwoners vermoor. Onder Konstantyn* die Grote het Joppe ’n biskopsetel geword. In die Middel­eeue was dit ’n belangrike hawe vir die kruisvaarders (Kyk by: Kruistogte).

 

Sidebar