JORDAAN, GERT JOHANNES CORNELIS (JORRIE)

JORDAAN, GERT JOHANNES CORNELIS (JORRIE) (1951–) het tydens sy dekade (1992–2002) as redakteur van Die Kerkblad, blad van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika* (GKSA), bekendheid verwerf vir sy baie behoudende standpunte. Terselfdertyd was hy sedert 1998 professor in Nuwe-Testamentiese* vakke en sedert 2004 vise-rektor van die Teologiese Skool Potchefstroom. Vroeër was hy dosent in Grieks* aan die destydse Potchefstroomse Univer­siteit vir Christelike Hoër Onderwys* en pre­dikant* van die Gereformeerde Kerk Viljoenskroon/Bothaville en later Vander­bijl­park-Oos.

Jordaan was aktief in die kerklike lewe en het in ’n groot aantal deputate van die nasio­nale sinode van die GKSA gedien, onder meer dié oor die plek van die vrou in die kerk en die doodstraf. Van 2006 af is hy lid van die vertaalspan en eindredaksie van Die Bybel: ’n Direkte Vertaling.

Jordaan het ’n aantal populêre boeke gepubliseer, waaronder Die New Age van God, God se nuwe wêreld as antwoord op die New Age-beweging, Nooit sonder God nie en Woord vir Woord.

Hy het deur die jare in ’n verskeidenheid organisasies gedien, onder meer in die konserwatiewe Vereniging Bybel en Volk en as voorsitter van die Bestuursraad van die Potchefstroomse Gereformeerde Akademie.

 

Sidebar