JOSEF

JOSEF is die naam van verskeie persone in die Bybel.

  1. ‑Josef, tweede jongste seun van Jakob* en die oudste seun van Ragel* (Gen 30:22-24). Die naam Josef het ’n dubbele betekenis: “God het my skande weggeneem”, en: “Die Here sal vir my nog ’n seun gee”. Josef was sy pa se gunsteling­seun en Jakob het vir hom ’n praggewaad gemaak. Sy broers was jaloers op hierdie aandag en ook ontsteld oor die drome wat Josef gehad het, wat voorspel het dat hy oor sy familie sal heers. Sy broers wou hom doodmaak, maar Ruben* oorreed hulle om hom aan slawehandelaars te verkoop. Die handelaars het Josef toe na Egipte* geneem. Hy werk daar by Potifar*, wie se vrou hom probeer verlei, en Josef beland in die tronk. Josef het drome vir die farao* uitgelê en hom ge­waarsku teen ’n komende hongersnood. Hy word daarna in ’n kroningseremonie oor die hele Egipte aangestel. Hy kry ook ’n nuwe naam: Safenat-Paneag. Josef ontvang Asenat* as vrou en word die pa van Efraim* en Manasse*. Sy broers het tydens die droogte koring in Egipte kom koop en is met Josef versoen. Josef het sy pa en broers na Egipte laat kom waar Jakob se nageslag geleef het tot met die uittog*.        2
  2. ‑Josef, man van Maria*1. Josef was Jesus* se aardse pa. Josef se pa was Jakob (Matt 1:16). Sedert die derde eeu word sonder sukses gepoog om die verwysing in Luk 3:23 na Eli as Josef se pa met Matt 1:16 te harmoniseer. Josef het in drome opdragte van engele* gekry. So mag hy nie van sy swan­ger verloofde, Maria, skei nie, maar moet met haar trou, want haar swangerskap is deur die Heilige Gees* (Matt 1:20) en sy gaan die Verlosser*, Jesus, in die wêreld bring as vervulling van die profesie dat die maagd swanger sou word (Matt 1:23, vgl Jes 7:14). (Maria se maagdelikheid met die ontvangenis van Jesus word deesdae meermale betwyfel, maar die vraag kan ook gestel word waarom, indien Jesus se latere opstanding uit die dood as ’n Goddelike “wonderwaarheid” aanvaar sou word, dit nie ook vir sy geboorte uit ’n maagd sou kon geld nie?) Josef kom al sy verplig­tings ten opsigte van die wet na. Hy gaan vir die volkstelling na Betlehem*. Agt dae ná Jesus se geboorte vind sy besnydenis* en naamgewing plaas (Luk 1:21), en 32 dae later neem Josef hulle na die tempel* in Jerusalem* vir Jesus se wyding. Met die kindermoord deur Herodes*1 vlug die gesin na Egipte* en vervul die profesie dat God sy Seun uit Egipte sou roep (Matt 2:15). Hulle terugkeer na Palestina* en Josef se vestiging as skrynwerker in Nasaret* in Galilea* om Herodes se seun, Argelaos van Judea (Kyk by: Herodes5), te ontvlug, vervul die profesie oor Jesus as die Nasarener* (Matt 2:25). Behalwe vir sy besorgdheid met Jesus se verdwyning (Luk 2:48) en sy bewondering vir Jesus se kennis en insig, figureer sy naam verder slegs wanneer Jesus geïdentifiseer moet word (Joh 1:45; 6:42).
  1. ‑Josef van Arimatea was ’n dissidente* lid van die Sanhedrin*, ’n ryk, goeie en opregte persoon wat uitgesien het na die koms van die koninkryk* van God en ook ’n geheime volgeling van Jesus* was. Met toestemming van Pilatus*, haal hy Jesus se liggaam van die kruis* af, balsem dit, draai dit in linne toe, begrawe dit in sy eie, nuwe graf, en rol ’n klip daarvoor. Nikodemus*, ’n raadslid met dieselfde oortuigings, staan hom by.
  2. ‑Josef, halfbroer van Jesus. Jesus* het jonger halfbroers en -susters gehad. Een van hulle was Josef (Matt 13:55). Mark 6:3 het egter Joses*1 in plaas van Josef. By Jesus se begrafnis was Maria*, die ma van Joses, ook aanwesig (Mark 15:47), wat klaarblyklik nie na Maria, Jesus se ma, verwys nie.
    1. ‑Josef Barnabas (Kyk ook: Barnabas) was ’n lid van die gemeente* in Jerusalem* en Antiogië* en was ’n Leviet* wat op Siprus gebore is. Hy het ’n eiendom verkoop en die opbrengs daarvan vir die apostels* gegee (Hand 4:36; sommige manuskripte het hier “Josef”, ander “Joses”.). Hy het saam met Paulus* op sy eerste sen­dingreis gegaan, en ook ’n belangrike rol by die apostelkonferensie in Jerusalem* ge­speel (Hand 13:4; 15:2).
    2. ‑Josef Barsabbas is ook Justus*1 ge­noem. Hy is saam met Mattias* voorgestel as apostel* in Judas Iskariot* se plek (Hand 1:23).

 

Sidebar