JOSEFUS, FLAVIUS

JOSEFUS, FLAVIUS (37–circa 100 nC) is ’n Joodse* geskiedskrywer wat in die eerste eeu nC geleef het. Sy werke is die belang­rikste bron vir die geskiedenis van die Jodedom in die tyd van die tweede tempel*4, en vir die Joodse agtergrond van die vroeë Christendom*. Hy stam uit die Joodse priesteraristokrasie en was ten tye van die Joodse oorlog (66–70 nC) bevelvoerder van die Joodse troepe in Galilea*, maar moes ná die Romeinse beleg van Jotapata kapituleer. Toe sy voorspelling dat Vespasianus Ro­mein­se keiser* sou word, bewaarheid is, word hy vrygelaat. Daarna vergesel hy die Romeinse bevelvoerder Titus Flavius en tree as sy raadgewer op tydens die beleg van Jerusalem*. Ná die oorlog bekom hy Romeinse burgerskap en leef as begunstigde van die Flaviese keisers hoofsaaklik in Rome*. Daar skryf hy sy geskiedenis­werke, naamlik Oor die Joodse oorlog (7 bande, circa 75–79 nC), en Joodse oudhede, ’n omvattende geskiedenis van Israel* en die Jodedom (20 bande, gepubliseer in 93/94 nC). Aangeheg was ’n outobiografie as apologie vir sy omstrede rol in die Joodse oorlog. Verder het hy ’n apologie vir die Jodedom geskryf (Teen Apion), waarin hy probeer om anti-Joodse polemiek (onder andere van Apion van Aleksandrië) te weerlê en die ware karakter van die Jodedom (ou­der­dom, kultus, wet*, staatsvorm, monoteïsme*) daar te stel.

Vir verdere lees: P Bilde 1988. Flavius Josephus: Between Jerusalem and Rome. Sheffield: JSOT Press.

Sidebar