JOSHUA, TONITOPE BOLEGUN

JOSHUA, TONITOPE BOLEGUN (1963–) is ’n bekende en charismatiese – maar dikwels ook erg omstrede – prediker en geloofsgeneser, wat sy kerk, The Synagogue Church of All Nations, in Lagos, Nigerië, gevestig het. Hy is in ’n klein Nigeriese dorpie gebore en het as lidmaat van die Anglikaanse Kerk* grootgeword. Nadat hy ’n spesiale roeping ervaar het, het hy met ’n eie bediening begin (1992). Groot getalle mense het na sy dienste gestroom, selfs uit die buiteland, om genesing van talle kwale te ontvang. Ook uit Suid-Afrika het baie gelowiges die afgelope jare na Lagos gereis om Joshua te hoor preek of om genesing te ontvang (onder andere die Zoeloeprinses Zibusile en die Springbok-rugbyspeler wyle Ruben Kru­ger). TB Joshua het egter ook onder hewige kritiek van kerkleiers in sy eie land sowel as die buiteland deurgeloop wat ernstige vrae oor sy leerstellings en optrede stel. Die ineenstorting van ’n deel van sy kompleks in Lagos in 2014, wat die dood van tientalle mense veroorsaak het, het die vrae oor sy bediening laat verdiep – ook omdat sy personeel se optrede ná die ramp as onhulpvaardig gesien is.

 

Sidebar