JOSSITALA, SAMUEL

JOSSITALA, SAMUEL (–2005) was die eerste leraar in die Igreja Reformada em Moçambique (IRM) om sy volle predikants­opleiding in Mosambiek te ontvang. Hy studeer te Ricatla, ’n interkerklike inrigting naby Maputo, en word in 1987 tot die be­diening toegelaat. Spoedig speel hy ’n leidende rol in die vestiging van die IRM in verskeie streke van die land, onder andere in die Tete-gebied en in die verre noorde. Later word hy verskuif na Maputo in die gebied van die Sinodo Novo waar hy grondliggende werk doen om die IRM in die suide van die land te help opbou. Hy dien verskeie kere as moderator* van die Sinodo Novo en dien in die moderamen van die IRM se algemene sinode*. Hy onderskei hom nie net as kerkleier nie, maar ook as onderhandelaar en tussenganger met die owerhede en as skakelbeampte by die NG Kerkfamilie* se gesamentlike kommissie vir sending in Mosambiek.

Vir verdere lees: JM Cronje 1981. Aan God die dank: Geskiedenis van die sending van die Ned Geref Kerk, Deel 2. Pretoria: NGKB. W Gouws 2005. Not by Might, nor by Power: A History of the Igreja Reformada em Moçambique. Stilbaai: WJ Gouws (ver­werking van MTh-tesis, Universiteit van Stellenbosch).

Sidebar