JOSUA (BYBELBOEK)

JOSUA (BYBELBOEK) is die sesde boek in die Bybel* en sluit nou aan by die voor­af­gaande boeke van die Pentateug*. Dit beskryf die vervulling van God se belofte by Sigem* aan Abraham* dat sy nageslag Kanaän* as land sou ontvang (Gen 12:5-7). Die landbesetting onder leiding van Josua* eindig met ’n volksvergadering by Sigem* waar Josua die volk herinner aan God se beloftes. Hy bevestig weer die eis dat Israel die Here* “met opregtheid en met trou” moet dien (Jos 24).

Josua vorm ook deel van ’n ander eenheid – die Deuteronomistiese geskiedwerk* – en wel as een van die vroeë profete.

Samestelling: Die boek Josua kan in twee groot blokke verdeel word, met ’n inleiding en ’n slot. Fynere indelings kan in elkeen van die blokke aangebring word.

Die indeling lyk soos volg:

Inleiding                   1

Verowering               2–9 + 10–12

Verdeling                  13–19 + 20–22

Afskeid                    23 + 24

Die inleiding en afskeid vorm ’n raamwerk vir die res van die boek. Jos 1:1-9 begin met ’n opdrag van die Here aan Josua om die beloofde land binne te trek en te beset. Die Here onderneem om hom by te staan, maar vermaan hom om die wet wat Moses* ontvang het, nougeset uit te voer. Die res van die hoofstuk bestaan uit ’n toespraak van Josua aan die volk, waarin hy hulle op­roep om die land in te neem. In die af­skeids­hoofstukke is Josua weer aan die woord. Die land is in besit geneem en die Here het “na alle kante toe aan Israel rus gegee van sy vyande” (Jos 23:1). Jos 24 doen verslag oor ’n volksvergadering by Sigem* waar Josua as bejaarde leier die verbond* hernuwe.

Die eerste helfte van die boek (Jos 2–12) handel oor die veroweringsproses van die land. Hoofstuk 2–9 sentreer rondom Gilgal* en handel byna volledig oor die verowering van die gebied van die klein Benjaminstam. Dit bestaan uit ten minste agt onafhanklike verhale wat elkeen ’n besondere verskynsel in die landskap verklaar. Die verhale word dikwels afgesluit met ’n frase wat aandui dat die verskynsel of naam by die skryf van hierdie deel van die boek nog steeds dieselfde was (en dus nagegaan kon word). Dit sluit verskynsels in soos die kliphope in die Jordaan* en naby Gilgal (4:1-24), die vernie­tigde mure van Jerigo* en die insluiting van Ragab* se nageslag in Israel* (6:1-27), ’n hoop klippe in die Agorvallei naby Jerigo (7:26), die ruïnes van Ai* (8:28) en die hoop klippe daar naby (8:28-29). Dié soort verhaal word ’n etiologiese verhaal genoem. Dit is ’n verhaal wat ’n sekere verskynsel verklaar.

Ná die uitgebreide verslag oor die inname van die stamgebied van Benjamin*, volg daar in twee hoofstukke ’n bondige vertelling oor hoe die res van die land in besit geneem is. Jos 10 handel oor die ver­owe­ring van die suide en Jos 11 oor die verowering van die noorde. In beide gevalle kom die Israeliete eers te staan teen ’n koa­lisie van konings (in die suide onder leiding van Adoni-Sedek* van Jerusalem*, in die noorde onder leiding van Jabin* van Ha­sor). Daarna volg ’n lys van die gebiede wat in die suide (10:28-43) verower is en dan ’n opsomming van die hele veroweringsgebied (11:16-23) en ’n lys van al die konings wat oorwin is (12:1-24).

Die tweede helfte van die boek (Jos 13–22) handel oor die verdeling van die land. Dit is die kern van die boek. Die be­lang­rik­heid van hierdie gegewens lê in die feit dat dit aandui hoe elke enkele deeltjie van die volk hulle deel van die beloofde land ontvang het.

Alhoewel “daar nog ’n baie groot deel van die land (was) wat in besit geneem (moes) word” (13:1), beveel die Here Josua om die hele land te verdeel asof dit reeds verower is (13:2-7). Die eerste toedeling wat beskryf word, is die gebied oos van die Jordaan* (13:8-14). Die stamme Ruben* (13:15-23), Gad* (13:24-28) en die helfte van die Manassestam (13:29-33) ontvang grond daar. Daarna volg ’n beskrywing van die verdeling van die grondgebied wes van die Jordaan. Buiten die stamgroepe, ontvang Kaleb* en Josua, die twee verkenners wat aanbeveel het dat die land wel inneembaar is, ook elkeen ’n eie grondgebied in hulle onderskeie stamgebiede. Kaleb ontvang Hebron* in die gebied van Juda* (14:6-15; 15:13-19) en Josua Timnat-Serag in die gebied van Efraim* (19:49-50). Die toewy­sing van grond aan die orige stamme word soos volg beskryf: Juda* (15), die Josef­stamme, Efraim en die ander halwe Manas­sestam (16–17), Benjamin (18), Simeon*, Sebulon, Issaskar, Aser, Naftali, Dan* (19). Dan volg ’n lys van asielstede*, wat ’n rol in Israelitiese regspraak gespeel het (20) en die stede van die Leviete* (21). Die stam van Levi het nie ’n eie gebied ontvang nie, om­dat hulle kultiese verpligtings gehad het. Stede in die ander stamgebiede is aan elk­een van die drie Levitiese groepe van Ke­hat*, Gerson* en Merari* toegeken.

Die stamme met grond oos van die Jordaan het ’n altaar opgerig wat tot groot onenigheid met die res van die volk gelei het. Hulle bely egter hulle geloof in die Here en verklaar dat die altaar bloot ’n gedenkteken van hulle toewyding aan die Here is. Dit is deur die priesters*1 en ander leiers so aanvaar (Jos 22).

Vir verdere lees: DN Pienaar 2006. Josua. Wellington: NGKU.

 

Sidebar