JOSUTTIS, MANFRED

JOSUTTIS, MANFRED (1936–) studeer teologie* in Wuppertal, Bonn en Göttingen, en sy doktorale proefskrif is ’n sistematies-teologiese uiteensetting van die teologie van Karl Barth*. Kort hierna skryf hy ’n rig­tinggewende boek oor die praktiese* teologie waarin sy kritiese houding jeens die Duitse prediking* van sy tyd skerp na vore kom: Gesetzlichkeit in der Predigt der Gegen­wart (Wettisisme in die huidige prediking). Hierin ondersoek hy talle Duitse preke en Skrifoordenkings en kom tot die gevolg­trekking dat die ou verskynsel van mora­lis­me* in talle preke botvier. Josuttis word kort daarna as professor in praktiese teologie aan die Georg-August-universiteit in Göt­tingen aangestel, ’n leerstoel wat hy tot met sy aftrede sou beset (1968–2001). Josut­tis het bepaalde paradigmaskuiwe in sy teo­lo­giese denke ondergaan. Tydens die eerste fase is hy beïnvloed deur die dialektiese* teologie van Barth en ander. Later sou sy belangstelling verskuif na die pastoraat*, met inagneming van die mens- en sosiale wetenskappe. Tydens sy derde fase wend hy hom tot die veld van die fenomenologie en spiritualiteit*, en ondersoek hy onder andere die verbande tussen spirituele uitings, religie en kultuur* op ’n empiriese wyse.

Sidebar