JOUBERT, ELSABÉ ANTOINETTE MUR­RAY (ELSA)

JOUBERT, ELSABÉ ANTOINETTE MUR­RAY (ELSA) (1922– ) is in die Paarl gebore. Sy het in haar skrywersloopbaan vroeg reeds ’n verbintenis met die Afrika-kontinent en die proble­matiek van botsende kulture en rassespannings. Haar romans toon ’n vervlegting van fiksie en feitelike verslaggewing. Belangrike aktuali­teitsromans, Ons wag op die kaptein (1963) en Bonga (1971), word onderskeidelik in Angola en Mosambiek geplaas. Die swerfjare van Poppie Nongena (1978) is ’n kroniek van ontsaglike lyding wat tussen twee belang­rike historiese gebeurtenisse in Suid-Afrika – die 1960-onluste en die 1976-opstand onder die kinders – plaasvind. Die fokus is Poppie se swaarkry en ontbering wat aan haar opgedwing word deur die buro­kratiese toepassing van apartheid*. Die roman word aangebied as die regstreekse vertelling van die hoofkarakter en ander swartmense, wat die indruk van direkte verslag of optekening wek. Só skep sy deur die gebruik van swartmense se Afrikaans* ’n beeld van verontregting. Die roman beleef veelvoudige vertalings en was een van Afrika se Honderd Boeke van die Eeu (2001).

Die laaste Sondag (1983) en Missionaris (1988) verken religieuse temas binne die aktuele Afrika-konteks. Die familiekroniek, Die reise van Isobelle (1995), Hertzogprys­wenner, word ’n politieke roman wat oor die verloop van ’n eeu die lewensverloop van Josias van Velde en sy nasate oor vier geslagte vertel. Die verdeeldheid in die Afrikaanse gemeenskap is hierin ’n sterk tema. ’n Wonderlike geweld (2005), deel een van haar memoirés, handel oor haar jeug en jongvolwasse jare.

Sidebar