JOUBERT, GIDEON

JOUBERT, GIDEON (1923–2010) is op Stellenbosch gebore, het aanvanklik by Die Burger gewerk, in die Vloot bevelvoerende offisier van SAS Saldanha geword, was ’n tyd lank in die sakewêreld, het toe teruggekeer na Die Burger en uiteindelik daar afgetree. Joubert het groot bekendheid verwerf met sy blitsverkoper-boek, Die Groot Gedagte – abstrakte weefsel van die kosmos, wat in 1997 verskyn het en daarna talle herdrukke en ook ’n heruitgawe beleef het. Dié boek is in 1998 met die Insig-prys vir Afrikaanse Nie-fiksie bekroon, en in dieselfde jaar met die Andrew Murrayprys*. Prof Gawie Cillié*2, wiskundige en sterrekundige, het van Die Groot Gedagte gesê: “Ek kan hierdie boek net met een woord beskrywe, briljant.” Die boek sluit só af: “Ek het hierdie boek begin skryf omdat ek van vertwyfeling oorstelp was. Ek wou vind, probeer verstaan, vir sover dit vir ’n sterfling moontlik is. Ek het God oral gevind: in die magtige skeppings­oomblik, in die skitterende sonne, in die gloeiende hemelkolke, in die fyn en ordelike atoom, in die abstrakte weefsel van die werklikheid, en in die Woord. God is oral. Orals is die tekens van sy Groot Gedagte, waarvan ons ook deel is. Sekerlik weet Hy van my, en is sy Gees ook in my (…) Omnia ad majorem Dei gloriam.

Vir verdere lees: Gideon Joubert 1997. Die Groot Gedagte – abstrakte weefsel van die kosmos. Kaapstad: Tafelberg.                                                                                                         

Sidebar