JOUBERT, PETRUS JACOBUS (PIET)

JOUBERT, PETRUS JACOBUS (PIET) (1831–1900) speel ’n leidende rol in die Zuid-Afrikaansche Republiek as veldkornet, volksraadslid, waarnemende staatspresident, kommandant-generaal. Hy was dikwels lid van deputasies wat oorsee die republiek se belange bevorder het. As een van die befaamde Driemanskap (saam met Paul Kruger* en MW Pretorius) het hy ná vergeefse onderhandelings die militêre offensief gelei wat die Britse anneksasie van Transvaal met die Eerste Vryheidsoorlog (1880–1881) beëindig het. Hy sou ook as krygshoof gedurende die Anglo-Boereoor­log* (1899–1902) die bevel voer oor die Transvaalse magte aan die Natalse grens.

Sy besondere ondernemendheid het hom een van die welvarendste burgers ge­maak. Tog was dit saam met sy Christelike deug­de en vriendelike geaardheid, nie ge­noeg om medeburgers by die stembus te oortuig nie – hy is in etlike presidentsver­kiesings deur Paul Kruger* verslaan. Ook as militaris het sy oorversigtigheid en verdedigende taktiek meermale meegebring dat hy gunstige strategiese posisies nie benut het nie. Gedurende die oorlog het hy siek geword en is binne ’n paar dae oorlede.

Die erf waarop Joubert se statige woonhuis gestaan het, is later deur die NG Kerk* aangekoop. Die huis is gesloop en die eerste sinodale sentrum, die Genl Piet Joubert-gebou in Visagiestraat, Pretoria, is daar gebou.

Vir verdere lees: JS du Plessis 1968. “Jou­bert, Petrus Jacobus”, Suid-Afrikaanse bio­gra­fiese woordeboek, deel 1. Pretoria: RGN.

 

 

Sidebar