JOUBERT, STEPHANUS JACOBUS (STEPHAN)

JOUBERT, STEPHANUS JACOBUS (STEPHAN) (1958–) voltooi sy teologiese opleiding in 1983 aan die Universiteit van Pretoria, en word predikant van die NG Gemeente Kempton-Kruin voordat hy in 1990 professor in Bybelkunde aan die Universiteit van Pretoria en in 1997 in Nuwe Testament* aan dieselfde universiteit se fakulteit teologie word. Hy doen sy doktorsgraad oor die armoedevraagstuk in die Jerusalemgemeente en lê hom daarna toe op die Pauliniese (Kyk by: Paulus) teologie. Joubert is ’n produktiewe skrywer van meer as vyftig po­pulêr-teologiese werke. Van sy belangrikste werk op dié front is sy aandeel aan Die Boodskap, ’n weergawe van die Bybel* in eietydse Afrikaans*. Dié werk is bekroon met ’n prys van die Christelike Boekhande­laars van Suid-Afrika en Joubert word ook deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns beloon met die Van Drimmelenmedalje. Van sy ander werke is My eerste boodskap wat op kinders gemik is en ook in Noorweegs, Nederlands en Engels vertaal is, Beheer God my denke? wat ook in Engels verskyn het, en die hoogaangeskrewe Ontsluit die Nuwe Testament. Joubert was ’n medewerker aan Die Bybellennium, ’n eenvolumekommentaar op die Bybel, wat in 2000 met die Andrew Murrayprys* bekroon is, en hy ontvang dié prys ook in 2010 vir Jesus – ’n radikale sprong. In die breër kerklike lewe was Joubert in ’n stadium assessor van die Suid-Transvaalse sinode. In 2002 bedank hy as professor en aanvaar ’n beroep na ’n Afrikaanse gemeente in Auckland, Nieu-Seeland, waar hy onder die indruk kom van die behoefte aan ’n Christelike bedie­ning oor die internet. Ná sy terugkeer na Suid-Afrika die volgende jaar, stig hy die e-kerk vroeg in 2004 wat naas ’n webwerf ook ’n e-posbediening reg oor die wêreld begin. Oor die e-kerk verklaar hy: “Ons beleef dat sowel kerklik-betrokkenes as mense wat nie meer by plaaslike kerke inskakel nie, deel is van die e-kerk-familie. Ons is ’n koninkrykgerigte, interkerklike familie” (Kerkbode, 15 Maart 2013).

 

Sidebar