JUDA

JUDA hou verband met die Hebreeuse* woorde vir “prys”. Die naam word in die Bybel* vir ’n persoon, ’n stam en ’n landstreek/koninkryk gebruik.

  1. Persoon: Juda was die vierde seun van Jakob* en Lea* (Gen 29:35).
  2. Stam: Na aanleiding van hierdie stamvader is een van die twaalf stamme van Israel* ook met dieselfde naam benoem.
  3. Landstreek: Die landstreek wat aan hierdie stam toegedeel is (Jos 15), staan onder dieselfde naam bekend. Die heuwel­agtige landstreek was ongeveer 640 km2 groot en het gestrek in die noorde van ’n denkbeeldige lyn vanaf die noordelike kus van die Dooie See* tot by die Middellandse See, tot in die suide waar die woestyn van die Sinai*1 skiereiland begin. Weens die kalkagtige grond en matige reënval in hierdie gebied, is dit geskik vir die verbouing van wingerde, olyfbome en amandels (wat op terrasse aangeplant is).
  4. Koninkryk: Juda was die gebied waar koning Dawid* die sentrum van sy koninkryk gevestig het (met sy hoofstad in Hebron* – voordat dit verskuif het na Jerusalem*). Ná die skeuring van die koninkryk, het die koninkryk van Juda (onder die regering van afstammelinge van Dawid) in die suide bly voortbe­staan. Dit is ook bekend as die Suidryk of die Twee­stammeryk. In 587/6 vC word die hoofstad Jerusalem egter deur die Babiloniërs* vernie­tig, en kom die ko­ninkryk effektief tot ’n einde. Die leiers van die volk word in hierdie tyd in ballingskap* na Babilon* weg­ge­voer. Hoewel dit in die ballingskaptyd steeds deur kleinboere en andere bewoon is, was dit polities nie weer ’n krag nie. In die na-ballingskapse tyd sou dit egter weer as Persiese satrapie (provinsie; genoem Jehud*) geproklameer word, en sou ’n mate van selfregering oor die gebied weer moontlik word.

‑   Juda is ook in die Nuwe Testament* be­kend, aangesien Jesus* in Bethlehem* ge­bore is wat in die landstreek Juda gelê het. (Kyk ook: Jood.)

Sidebar