JUDAS (BYBELBOEK)

JUDAS (BYBELBOEK). Hierdie brief* is deel van die groep “algemene sendbriewe” in die Nuwe Testament*. Volgens die aanhef en slot is die Judasbrief ’n tipiese antieke brief. Judas vertoon egter ook sterk kenmerke van ’n preek. Daar was vroeg reeds groot onsekerheid of dié brief deel van die Christelike Bybel* moet wees of nie. Teen die vierde eeu is dit egter as gesagvolle geskrif aanvaar. Daar is ’n noue verwantskap tussen Judas en 2 Petrus* (veral hoofstuk 2). Na alle waarskynlikheid het die een skrywer van die ander se werk gebruik gemaak en daar word gewoonlik aanvaar dat 2 Petrus vir Judas gebruik en daarop uitgebrei het.

Skrywer: Die skrywer noem homself nie ’n apostel* nie en was dit waarskynlik ook nie (Judas 17). Hy kon die broer van Jakobus* en Jesus* gewees het (Matt 13:55), ’n onbekende Judas, of Judas Barsabbas* wat saam met Silas*, Paulus* en Barnabas* na Antiogië* is (Hand 15:22). Dit kan wel afgelei word dat die skrywer ’n Christen-Jood* was.

Lesers: Daar is geen vermelding aan wie die brief gerig was nie, maar dit kan afgelei word dat hulle waarskynlik ’n spesifieke groep Joodse Christene was (vers 3).

Ontstaansplek: Dit moet waarskynlik in Klein-Asië* gesoek word.

Datering: Daar het tyd verloop vir dwaallerings waarteen Judas waarsku, om te ontwikkel, en daarom word aanvaar dat dit waarskynlik omstreeks 80 nC geskryf is.

Taal en styl: Die Judasbrief is in relatiewe goeie Griekse* styl geskryf. Daar is verwy­sings na apokriewe* boeke, soos Henog (vers 14-15).

Boodskap: Judas waarsku teen dwaalle­rings wat ’n gnostieke* en immorele (vers 4, 7-8, 16, 18) karakter besit. Dwaalleraars ken nie die grense tussen mense*, engele* of selfs God nie (vers 8). Christengelowiges moet volhard in hulle geloof*.

Sidebar