Judas Makkabeus

Judas Makkabeus (letterlik Judas die Hamer) was een van die leiers van die Joodse* opstand teen Antiogus* Epifanes. Antiogus het die Jode onderdruk. In 168 vC het Antiogus die tempel*2 in Jerusalem* om­skep in ’n tempel vir Jupiter* en ’n stand­beeld van dié god in die tempel ge­plaas. Hy het afgodsoffers in die tempel geoffer en die bloed van varke op die altaar gegooi. ’n Priester met die naam Mattatja het die opstand begin en ná sy dood het Judas die leiding in die opstand oorgeneem. Die Griekse owerheid in Sirië* het soldate gestuur om die opstand te onderdruk, maar hulle het die een neerlaag ná die ander gely. In 165 vC het Judas en sy magte die tempel oorgeneem en weer gerei­nig. In 164 vC is Antiogus dood. Judas en sy magte is egter op die tempelberg vasgekeer, en na ’n amnestie weens spanning in die Siriese Ryk, moes hy Jerusalem verlaat. Nadat die Siriese magte in 161 vC verslaan is, het Judas en sy mense Jerusalem ingeneem. Hierna het hy ’n verdrag met Rome (Kyk ook: Romeinse Ryk) probeer sluit, maar in ’n volgende veldslag teen die Sirie­se Ryk is Judas gedood. Sy broer Jonatan het hierna die leiding geneem, en ’n volgende broer, Simon, ná Jonatan se dood in 145 vC. In 142 vC het die Jode onder Simon se leiding weer hulle vryheid herwin.

 

Sidebar