JUDEA

JUDEA is die Latynse naam vir Juda*, die suidelike deel van Israel* se grondgebied wat deur die Tweestamme-ryk (Juda en Efraim*/Manasse*) bewoon is. Judea, in sy Latynse vorm, verwys meesal na die Ro­mein­se provinsie (Kyk by: Romeinse Ryk), maar in sy breëre verband verwys Judea/Juda na ’n streek eerder as ’n provinsie met afgebakende grense. Ná die ballingskap*, in die tyd van Nehemia* (445–433 vC), word Juda*4 ’n selfregerende kolonie in die Persiese* ryk. Ná die Makkabese (Kyk by: Judas Makkabeus) vryheidsoorlog brei die oosgrens van Juda uit sodat dit omstreeks 140 vC tot oor die Jordaan* strek. Ná Pom­pe­jus se suksesvolle optrede in 64 vC krimp die grense van Judea weer. Ná Herodes*5 Argelaos se verbanning in 6 nC, word Judea met Samaria* en Idumea saamge­voeg in ’n keiserlike* protektoraat onder ’n goewerneur in Sesarea*, met die titel van prokurator. Ná Herodes*2 Agrippa I se dood in 44 nC, word die prokurator se jurisdiksie uitgebrei oor die hele gebied wat die Romeine “Palestina*” en ander “Judea” genoem het. Met die Romeins-Joodse oorlog van 66–70 nC, en veral ná die onderdrukking van die Joodse rebellie onder Bar Kokhba* in 134 nC, het Judea opgehou om as ’n Joodse landstreek  te bestaan.

Vir verdere lees: 1971. Encylopaedia Judaica, deel 10. Jerusalem: Keter. SJD Cohen 1999. The beginnings of Jewishness: Boundaries, Varieties, Uncertainties. Berke­ley: University of California.

Sidebar