JULIANUS, DIE AFVALLIGE

JULIANUS, DIE AFVALLIGE (331/332–363) was Konstantyn* die Grote se broerskind. Julianus se pa is vermoor om te verseker dat Konstantyn se seun, Konstan­tius II, sy ryk erf. Julianus self kry as kind en jongman ’n Christelike opvoeding, maar teen 351, toe hy twintig jaar oud is, het hy reeds die Christendom* verwerp en ’n vurige aanhanger van die Romeinse en Griekse paganisme (heidense opvattings en gebruike) geword. Konstantius II maak Julianus later die heerser van Gallië, waar Julianus goed vertoon as aanvoerder en administrateur. Toe Konstantius II in 361 sterf, word Julianus die alleenheerser van die ryk. Hy is toe dertig jaar oud.

Julianus was minder as twee jaar keiser* (361–362) toe hy in Persië op die slagveld gesneuwel het. Gedurende sy regering het hy groot “hervormings” teweeg gebring. Hy het die ou godsdienste van die Romeine en Grieke weer ingevoer en hulle tempels laat herbou. Hy het homself as pontifex maximus uitgeroep. Aanvanklik het hy ’n edik uitgevaardig wat godsdienstige verdraagsaamheid tot wet verhef het. Hy het die Christene* aanvanklik verdra, en biskop­pe* wat vir hulle leer in ballingskap was, laat terugkom. Later het hy die Christen­dom openlik begin vervolg.

Julianus het baie geskryf. Sy Teen die Galileërs (soos hy die Christene genoem het) is een van sy bekendste werke wat in fragmente behoue gebly het in die werk van Kurillos van Aleksandrië, Teen Julia­nus, waarin hy op Julianus se aanval op die Christendom geantwoord het.

Sidebar