JULIUS VAN AFRIKA (SEXTUS IU­LIUS AFRICANUS)

JULIUS VAN AFRIKA (SEXTUS IU­LIUS AFRICANUS) (circa 160–240), die vader van die kerkgeskiedskrywing (Kyk by: Kerkgeskiedenis), is waarskynlik in Libië gebore, en het sy opleiding by die kategeseskool in Aleksandrië ontvang. Hy het egter die grootste deel van sy lewe in Emmaus deurgebring wat hy uit ruïne opgebou het en wat daarna bekend was as Nikopolis. Hy het die eerste Geskiedenis van die wêreld geskryf, Chronographai, en wel in vyf volumes – van die skepping af tot in 221, dit is, volgens sy be­rekening, 5 723 jaar. Hy het die tydperk tussen die skepping en Jesus* se ge­boorte op 5 500 jaar bere­ken. Die geboorte van Jesus het volgens hom op Nuwe­jaars­­dag 5500 plaasgevind – of volgens ons huidige jaartelling op 25 Maart 1 vC. Hierdie lywige geskied­werk bestaan nie meer nie, maar uit Eusebius* en andere se talle aanha­lings daaruit, weet ons tog heelwat daarvan. Vir baie eeue is Julius se date­rings as standaard aanvaar.

Sidebar