KAAPSE KERK

KAAPSE KERK. Die vestigingsdatum van die Protestants*-Christelike geloof* aan die Kaap die Goeie Hoop (bekend as Cabo de Bona Esperance onder die Portugese) word teruggevoer na 6 April 1652. Dit was toe Jan van Riebeeck* en Willem Wijlant*, eerste permanente VOC-sieketrooster, Tafelbaai met die Drommedaris bereik het. Die meeste van die minder as 150 medenedersetters wat in drie skepies aan wal gegaan het, het tot die Nederlandse gereformeer­de* geloofstradisie behoort. Die geleidelike totstandkoming van gemeentes* en ander kerklike instellings het aanvanklik nog vir baie dekades onder die Amsterdamse Klas­sis (Kyk by: Ring) geressorteer. Dit was geen­sins vanselfsprekend dat die totstandkoming van ín halfwegstasie na en van die Ooste tot die vestiging van die Christelike geloof sou lei nie. Die Vereenigde Oost-Indische Compagnie* (VOC), die grootste 17de-eeuse handels- en seevaartmaatskappy, se primêre doel was om sy handelsryk te ver­sterk en uit te brei. Die VOC se hoof­amptenare was oor die algemeen Christene of was minstens die kerk goedgesind.

In navolging van die Portugese naam (Cabo) vir die Kaapse Skiereiland, het die Nederlanders spoedig self na die Caab of Caabsche Vlek verwys met Cabo as ’n wisselvorm. Die geografiese grense van wat as Kaaps gedefinieer is, het algaande só uitgebrei dat daar binne kerklike konteks ’n soort­g­elyke konsentriese verbreding van die betekenisveld van die Caabsche Kerk was wat omvangryker was as net die ge­meente Kaapstad. Dit is later gewoonlik, maar nie uitsluitlik nie, gebruik vir die eers­te ses gemeentes wat gedurende die VOC-era (1652-1795) tot stand gekom het. Verwysings na die “Kaapse Kerk” het dus noodwendig toegeneem tydens en ná die eerste (Kaapse) sinode* van 1824 toe daar reeds 14 gemeentes was. Die breër en meer beskrywende benaming, “Nederduitse Gereformeerde Kerk”*, het met die geleidelike totstandkoming van Engelse deno­minasies ná die tweede Britse besetting (1806) momentum gekry, hoewel dit eers in 1842 in breër NG kerkverband aanvaar is. Dit val min of meer saam met die noordwaartse migrasie van 1836 van oorwegend Hol­lands­spre­kende gereformeerdes met die Groot Trek* en met die gepaardgaande staat­kundige verwikkelings in die noorde. Dieselfde geld vir die stig­ting van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika* (1853) en die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika* in 1859.

Vir verdere lees: George Hofmeyr (hoof­red) 2002. NG Kerk 350. Wellington: Lux Verbi.BM.

Sidebar