KAISER, JOHN ANTHONY

KAISER, JOHN ANTHONY (1932–2000) is in Minnesota, Amerika, gebore en hy het daar ook sy skool- en ’n deel van sy universiteitsopleiding ontvang voordat hy sy weermagdiens as valskermsoldaat gedoen het. Daarna is hy Engeland toe vir teologiese studie. Hy is in 1964 as priester*2 georden en deur die Katolieke Kerk* na Kenia gestuur.

Kaiser het 20 jaar in die bisdom van Kisii saam met 48 ander priesters onder die meer as ’n halfmiljoen Katolieke in armoe­dige omstandighede gewerk. In 1993 is hy na die vlugtelingkamp by Ngong gestuur. Gewapende bendes en stamgeweld het mense uit hulle huise gedryf. Op Oukers­aand 1994 het die regering die kamp met geweld gesluit en die vlugtelinge gewelddadig verwyder. Kaiser het beswaar aange­teken, maar hy is gearresteer, gemartel en in ’n gevaarlike omgewing vrygelaat.

In 1998 het Kaiser voor ’n geregtelike kom­missie, wat die gebeure rondom die slui­ting van die kamp ondersoek het, ge­tuig. In sy getuienis het hy die blaam op pro­mi­nente ministers en die toenmalige pre­sident, Daniel arap Moi, geplaas. Die kommissie se verslag is nooit vrygestel nie.

In 1999 het die regering probeer om Kaiser te deporteer. Die regsvereniging van Kenia het aan Kaiser hulle menseregtetoekenning gegee.

In Augustus 2000 is Kaiser van agter in die kop geskiet. Sy liggaam is die volgende dag onder twee doringbome gekry. Nadat die eerste polisie- en forensiese verslae van moord gepraat het, het die regering dit later na selfdood verander.

 

Sidebar