KALENDER IN DIE BYBELSE TYD

KALENDER IN DIE BYBELSE TYD. In die tyd vóór die balling­skap het Israel* se berekening van tyd by dié van die Egiptenare (Egipte*) aangesluit. Hulle het die jaar volgens die beweging van die son bereken (Ra*, die son, was Egipte se hoofgod). Daarom is die dag van sonop tot sonop in terme van “dag en nag” beskryf (Deut 30:66). Die sonjaar was in 12 maande van 30 dae verdeel. Elke paar jaar is ’n ekstra maand bygevoeg om die verlore dae op te vang. Die name van die maande wat uit dié tyd bekend is, is van Kanaänitiese oorsprong en hang saam met die stand van die natuur, bv: Abib met ryp ko­ring­are, Etanim met standhoudende riviere en Bul met groot reën (vgl die tabel hieronder). Dikwels is die tyd van die jaar eenvoudig volgens die stand van landbou­gewasse aangedui (Amos 7:1).

In die tyd ná Israel se ballingskap*2 in Babel* het hulle die Babiloniese kalender aangeneem. Hulle het tyd in terme van die maan bereken, met die begin van die nuwe maand met die eerste verskyning van die sekelmaan ná donkermaan, soos by Moes­liems* vandag. Die dag is dus van sononder tot sonop bereken (Neh 13:19). Aanvanklik was daar teenstand teen die Babiloniese maandname wat met die Babiloniese godsdiens verband gehou het. Dikwels is bloot na die “sewende”, ens, maand verwys. Die week is in terme van die sabbat* be­re­ken en dae is in terme daarvan be­noem – ook in die Nuwe Testament* wat hoofsaaklik die Babiloniese sisteem navolg (Joh 19:14, 31).

Volgens Eks 12:2 moes die jaar voortaan in die lente met die maand Abib begin, omdat die uittog ’n nuwe tyd vir Israel in­ge­lui het. Dit staan teenoor die Kanaä­nitiese jaar wat in die herfs begin het, soos blyk uit die Geser-kalender-tablet uit die 10de eeu vC. Die liturgiese feeskalender van Israel het waarskynlik van die burgerlike jaar, wat in die herfs begin het, verskil. Aangesien die jaar volgens die Babiloniese kalender in die lente begin het, het die liturgiese kalender later gebruiklik geword.

Vir verdere lees: R de Vaux 1974. Ancient Israel – Its Life and Institutions. New York: McGraw-Hill.

Sidebar