KALWERDIENS

KALWERDIENS dui op die uitbeelding van sekere Kanaänitiese gode as bulle, of as gode wat op bulle staan. Dié tipe uitbeel­ding is kenmerkend van die Laat-Bronstyd­perk en die Vroeë-Ystertydperk (1550–1100 vC). Veral twee verhale van kalwerdiens is uit die Ou Testament* bekend.

  1. ‑Eerstens dié van die goue kalf wat Aäron* by Sinai* gemaak het toe Moses* nie van die berg af gekom het nie (Eks 32). Dit was ’n poging van Aäron om die Israe­liete tevrede te stel.
  2. ‑Tweedens dié van die bulbeelde wat Jerobeam*1 I by Bet-El* en Dan* opgerig het ná die skeuring van die koninkryk (1 Kon 12:25-32). Jerobeam het nie iets nuuts begin nie, maar het ou heiligdom­me uit die tyd van die aartsvaders, soos Bet-El, laat herleef. Hy bring die beelde in verband met God se verlossing van Israel* uit Egipte*. In die Koningsboeke* word al die konings van die Noordryk veroordeel op grond van “Jerobeam se sonde”. Die verering van die bulbeeld in Bet-El is hewig deur die profeet Hosea* gekritiseer. Hy verwys soms na die bulbeeld van Samaria* (Hos 8:4-6). Dit kan die beeld by Bet-El (Bet-Awen = Huis van sonde) wees, soos blyk uit Hos 10:5. (Kyk ook: Goue kalf.)

Vir verdere lees: Mark S Smith 1990. The Early History of God: Yahweh and the Other Deities in Ancient Israel. San Fran­cisco: Harper & Row.

Sidebar