KANAÄNITIES

KANAÄNITIES is ’n Semitiese* taal wat deur die inwoners van Kanaän* gepraat is ten tye van Israel* se intog in die beloofde land. Kanaänities is verwant aan Hebreeus*, die taal van die Israeliete, hoewel Gen 10 die Kanaäniete onder die nageslag van Gam* plaas en nie onder die nageslag van Sem*, soos die Israeliete, nie. Waarskynlik het Semiete vermeng met oorspronklike nie-Semitiese inwoners. Teen 3300 vC verwys Egiptiese (Kyk by: Egipte) dokumente al na Semiete wat in Kanaän woon.

Die Kanaäniete word as een van die sewe volke van die beloofde land beskryf (Jos 3:10; 24:11). Tog word die naam Kanaäniet soms ook as versamelterm gebruik vir inwoners van Kanaän om vreemde volke soos die Hetiete* en Jebusiete* in te sluit.

Die Kanaänitiese godsdiens en kultuur is veral bekend uit opgrawings by ou Feni­siese stede en die stad Ugarit*. By lg is ryk epiese literatuur gevind met verhale oor die Kanaänitiese gode. Uit Ro­meinse geskrifte is sommige van die praktyke van die Puniese kultuur (kultuur van die Fenisiese kolonie, Kartago) bekend. Ka­naä­nitiese gode was dikwels personifikasies van natuurverskynsels, soos Jam (See) en Mot* (Dood). Baäl*, Asjera* en Astarte* is be­langrike Kanaänitiese afgode. Naas die alge­mene gode, is ook plaaslike gode ver­eer, soos Baäl-Melkart van Tirus* en Baäl-Sebub van Ekron* (2 Kon 1:2-3). Die Kanaä­nitiese godsdiens was ’n sinnelike gods­diens met manlike en vroulike prostitusie en kinderoffers (Kyk by: Tempelpro­sti­tusie*.)

Sidebar