KANAMUZEYI, YONA

KANAMUZEYI, YONA (?–1964) was ’n diaken*2 in die Anglikaanse Kerk* in die tydperk ná die onafhanklikwording van die voormalige Belgiese kolonie, Rwanda-Burundi. Hy het op sy sendingstasie in Nyamata heelwat vlugtelinge gehuisves in die bloedige stryd wat tussen die Hutu’s en Tutsi’s gevolg het. Uiteindelik was daar onder sy leiding 24 kerke gevorm wat meer as 6 000 vlugtelinge versorg het. Kanamu­zeyi het geweier om in die burgeroorlog kant te kies en het voortgegaan om aan die vlugtelinge uit beide strydende stamme en faksies wat na sy sending*stasie ge­stroom het, skuilplek te gee. Op 23 Janu­arie 1964 het soldate by die sendingstasie op­ge­daag en hom en twee ander leiers gearresteer. Terwyl hulle weggeneem word, het Kana­muzeyi geweet dat die einde naby is. Toe hulle by die weermagkamp opdaag, het die sersant in beheer vir Kanamuzeyi gesê hy moet maar sy laaste gebedjie bid. Hy het volgens sy kollega gebid: “Here, U weet dat ek nie teen hierdie regering ge­sondig het nie. En nou bid ek dat U in u genade ons lewe sal ontvang. Ek bid dat U ons on­skuldige bloed sal wreek en hierdie soldate sal help wat nie weet wat hulle doen nie.” Kanamuzeyi is na ’n brug toe gelei terwyl hy geestelike liedere gesing het, waar hy geskiet en sy liggaam in die rivier gegooi is. Hierdie gebeure het so ’n indruk op die soldate gemaak dat hulle die ander gevangenes vrygelaat het.

Vir verdere lees: JE Church 1966. Forgive Them: The Story of an African Martyr. Londen: Hodder & Stoughton.

Sidebar