KANSEL

KANSEL. Die woord “kansel” is ontleen aan die Latynse cancelli (traliewerk om die liturgiese ruimte). In die oud-Christelike basiliek staan die kateder, die versierde stoel waarop die biskop* gesit en preek het, in die middel van die voorruimte. Gedu­rende die Middeleeue word die Woord* deur die sakrament* teruggedring, die nag­maal* toenemend as versoeningsoffer be­skou, en die altaar* gevolglik in die sentrum geplaas, met die kateder wat na die kant verskuif. Danksy die bedelordes kry die prediking* vanaf die 13de eeu nuwe aan­dag en word in Italië begin met die oprigting van ’n kansel, aanvanklik ’n verskuifbare stellasie, later ’n vaste struktuur van hout of klip wat aan ’n pilaar of symuur vasgeheg is (soos steeds gebruiklik in Katolieke* en Anglikaanse* kerkgeboue) – maar steeds met die altaar in die sentrum. ’n Fundamentele oortuiging van die reformatore (16de eeu) was egter dat ere­diens* en liturgie* om die Woordver­kon­diging sentreer (vgl Rom 10:17; 2 Tim 4:1-2). Met die ontwikkeling van ’n eie Prote­stantse* kerkboukunde kry hierdie oortuiging gestalte deur aan die preekstoel sy ereplek terug te gee. Die plasing van nagmaal­tafel en doopvont voor die kansel, gee simbolies daaraan uitdrukking dat die sakramentele tekens die hoorbare evangelie* sigbaar en tasbaar bevestig. Tans is daar in sommige Protestantse, ook gereformeerde*, gemeentes ’n nuwe nei­ging: om die kansel te vervang met ’n verskuifbare kateder om plek te maak vir orkes-instrumente. Dit wyk uiteraard af van die gereformeerde tradisie.

Vir verdere lees: HDA du Toit (red) 1966. Sinvolle kerkbou. Pretoria: NGKB. AG Luiks 1959. “Kansel” in: FW Grosheide en GP van Itterzon (red), Christelijke Encyclopedie, Vol 4. Kampen: Kok.

Sidebar