KANT, IMMANUEL

KANT, IMMANUEL (1724–1804) was ’n Duitse filosoof wat deur baie as die invloedrykste denker van die moderne era beskou word. Hy studeer aan die Colle­gium Fredericianum en die Universiteit van Königsberg. Vanaf 1755 doseer hy aan die universiteit in wetenskap en wiskunde en later in geografie. Gaandeweg brei sy studieveld egter uit na filosofie. In 1770 word hy aangestel as professor in logika en metafisika. Sy onortodokse studiemetodes lok groot getalle studente na Königsberg. Dit was veral sy standpunt oor godsdiens* waarin rasionalisme* ’n groter rol gespeel het as die openbaring*, wat hom in stryd gebring het met die koning van Pruise. In 1792 is hy deur Frederik Willem II verbied om lesings oor godsdiens te hou, of om enige iets oor godsdienstige onderwerpe te skryf. Met die dood van die koning in 1798, ’n jaar nadat hy afgetree het, het Kant ’n opsomming van sy godsdienstige standpunte gepubliseer.

Kant se definisie van die Aufklärung* tipeer iets van sy filosofie: “Die verligting is die uittrede van die mens uit ’n onmondig­heid wat sy eie skuld is. Onmondigheid is die onmag van jou eie verstand sonder leiding van ander.” Hy het verder onderskei tussen “suiwer rede”, en “praktiese rede” asook tussen “phenoumena” wat toeganklik is vir “suiwer rede” en “noumena”, b­v God, onsterflikheid en Vryheid, wat slegs toeganklik is vir praktiese rede. Kant beperk in sy Kritiek van die suiwere rede (1781; 1787) die klassieke natuurwetenskapsideaal tot die menslike verstandskategorieë wat slegs op sintuiglike verskynsels toegepas kan word (die materie van ons ervaring) sodat die bo-sinnelike morele vryheid van die mens (die domein van die praktiese rede) die voorrang kan ontvang. Die spanning tussen natuur en vryheid val by Kant saam met die dualisme* van “is” en “behoort” wat uitloop op sy boedelskeiding van wetenskap (is) en geloof (behoort): “Ek moes die wete(nskap) inperk om plek te maak vir die geloof.” Deurdat die huma­nistiese filosofie God se skepping gestroop het van die wet vir skepsel-wees asook van die ordelikheid daarvan, is die menslike verstand deur Kant verhef tot formele wetgewer van die natuur: “Die menslike verstand skep sy wette nie vooraf uit die na­tuur nie, maar skryf dit aan die natuur voor.”

In sy boek: Foundations of the Metaphy­sics of Morals (1795) beskryf Kant sy etiese sisteem wat uitgaan van die standpunt dat die menslike rede die hoogste vorm van moraliteit is. ’n Morele imperatief wat deel van elke mens se menswees is, vorm die basis van godsdiens. God word nie geken deur intellektuele vermoëns en ondersoeke nie, maar wanneer die strewe na ’n hoër moraliteit nageleef word. Sy vernaamste werke was Critique of Pure Reason (1781, 1787); Critique of Practical Reason (1788) en Critique of Judgement (1790, 1793).

Kant se filosofie was die onmiddellike voorganger van die dialektiese metodes wat deur Hegel* en Marx* gebruik is. Dit bevestig sy invloed as een van die grotes van die moderne tyd. (Kyk ook: Kantiaanse en neo-kantiaanse filosofie.)

Vir verdere lees: PS Dreyer 1977. Imma­nuel Kant: Fundering van die metafisika van die sedelikheid. ’n Vertaling van “Grundl­egung zur Metaphysik der Sitten” en van kommentaar voorsien in: HTS Supplementum 8. Pretoria: Promedia.

 

Sidebar