KARAKTER

KARAKTER kom van die Griekse charassein wat iets beteken soos graveer of die laat van ’n merk. Iemand met karakter laat ’n definitiewe merk en het invloed op ander en die geskiedenis. Karakter hou ook verband met die woord integriteit. Die woord integriteit kom van die Latynse integer wat op die geheel of heelheid dui. ’n Persoon met karakter en integriteit is iemand wie se hele lewe sekere karaktervoortreflikhede weerspieël. Wat hierdie karaktervoortreflikhede is, hang saam met verskillende gemeenskappe en tradisies se ideale van die goeie lewe. In morele* gesprekvoering word die begrip karakter dikwels saam met die begrip deugde* gebruik om vir ’n ruimer verstaan van die etiek* te pleit. Etiek gaan nie net oor keuses in moeilike situasies nie, maar het alles te maak met die karakter van die persoon wat die keuse maak. Om die waarheid te sê, hoe ’n mens die alternatiewe beskryf waartussen jy moet kies, hang saam met die manier waarop jou karakter oor die tyd gevorm is. Keuses rus dus op karakter. Die Amerikaanse teoloog Stanley Hauerwas* is iemand wat in die teologiese etiek baie bygedra het tot die herwaardering van die idee van karakter vir etiese gesprekvoering. Van sy vroeër boeke het titels soos Charac­ter and the Christian Life (1975) en A Com­munity of Character (1981). Die titels van hierdie twee boeke suggereer verder die belangrike verband tussen karakter en ge­meenskap. Karaktervorming vind binne gemeenskappe plaas. Die stories en praktyke van die gemeenskappe waarvan men­se deel is, stempel op ’n beslissende manier hulle karakters. Vir Hauerwas is die Christe­like gemeenskap, as alternatiewe gemeenskap wat deur waaragtige stories gevorm is, die juiste skoolplek vir karakter. Teologies gesproke, is dit ook belangrik om nie die gesprek oor karakter van teologiese kategorieë soos sonde* en genade* los te maak nie. (Kyk ook: Morele integriteit.)

 

 

Sidebar