KAREL DIE GROTE

KAREL DIE GROTE (742–814) was die koning van die Franke in Gallië. Hy was ’n groot man met ’n forse liggaam en ge­weldig sterk. Hy het een doel voor oë ge­had: om al die Germaanse volke in een Christenstaat te verenig. Vir Karel het Sag 4:6 egter nie bestaan nie, en hy het sy swaard gebruik om die evangelie* te vestig. Hy het eers teen die Saksers wat tussen die Elbe en die Ryn gewoon het, opgetrek. Hulle wou niks van die Christendom* weet nie, nog minder om met die Franke te verenig. Hulle het hulle gode in die bosse vereer. Hulle gode, Odin (of Wodan), Thor en Frigga, leef vandag nog voort in die name van ons dae, Woensdag, Donderdag en Vrydag. Eers ná vyf veldslae het Karel hulle aanvoerder, Wittekind, verslaan. Karel het heelwat van die gevangenes self met sy swaard onthoof.

Die pous* het hierna Karel se hulp teen die Lombarde ingeroep. Hy het hulle in 774 verslaan en hulle ryk by syne gevoeg. Daarna is hy oor die Pireneë om Spanje in te neem. Op Kersnag 800 het die pous vir Karel tot Romeinse keiser gekroon. Hy het gesorg vir goeie onderwys en baie kerke laat bou. Hy het landbou en veeteelt aangemoedig, paaie, kanale en brûe laat bou, en selfs voorskrifte gegee oor hoe om botter, kaas, bier en wyn te maak. Dit was vir hom ’n gruwel om rykdom te kry sonder enige inspanning.

Toe hy 50 jaar oud was, het hy geleer om Latyn en Grieks* te lees en skryf. Hy het ook ’n skool in Parys opgerig wat die opleiding van geestelikes en kategete moes be­hartig. Hy het by die Sinode van Mainz die priesters*2 van die klooster*skole vermaan om toe te sien dat katkisante minstens die Twaalf Artikels* en die Ons Vader* van buite ken. Hy het ook bepaal dat dit in die moedertaal moes geskied.

Sidebar