KAREL MARTEL

KAREL MARTEL (689–741) was Karel die Grote* se oupa. As lid van ’n aristokra­tiese Frankiese familie het Martel politieke mag begin kry as hoof van die paleis. Later het hy as militêre aanvoerder van die Fran­kiese magte roem en aansien verwerf deur die Franke teen invallende volke te be­skerm. Sy sukses kan toegeskryf word aan die feit dat hy wegbeweeg het van voetsoldate na soldate wat op perde geveg het.

Martel is ook bekend daarvoor dat hy twee sendelingmonnike*, Willibrord en Bo­ni­fatius*, gefinansier het om die Ger­maanse volke aan Frankryk se noord- en oosgrens tot bekering* te bring.

Karel Martel het sy posisie as “Princeps Francorum” (Leier van die Franke) teen 723 bevestig, en voortgegaan om sy koninkryk uit te brei en te beveilig deur militêre ekspedisies.

Martel het in sy eie koninkryk sterk be­heer oor die kerk, kerklike ampsdraers en kerklike eiendom uitgeoefen, wat syns in­siens alles in diens van die koninkryk en sy militêre behoeftes moes staan. Nietemin is hy deur die pous* ondersteun. Hierdie kontrole wat die koning, ’n leek, oor die kerk uitgeoefen het, is een van die redes waar­om die spirituele lewe van die Fran­kiese kerk agteruitgegaan en sy ampsdraers dislojaal jeens en ongedissiplineerd in die kerk geword het.

Sidebar