KARLSTADT, ANDREAS RUDOLPH BODENSTEIN

KARLSTADT, ANDREAS RUDOLPH BODENSTEIN (1480–1541) was sedert 1505 dosent aan die Universiteit van Wittenberg. In 1512 het Martin Luther* sy “doktorshoed” uit die hand van Karlstadt ontvang. Karlstadt het hom oopgestel vir die Reformasie*, veral vanweë sy nadenke oor die werke van Augustinus*. In 1519 het Karlstadt saam met Luther deelgeneem aan die Leipzig-dispuut en op Kersdag 1521 het hy nagmaal* in Protestantse* gees gevier. Karlstadt het ná die beeldestorm predikant* van Orlamünde geword. Hy het alleen dít verdra wat na sy oordeel met die Skrif* ooreenkom. Volgens hom het Luther méér van die kerklike tradisie behou as wat die Skrif toelaat. Karlstadt het teen die selibaat* geskryf en geestelikes aangemoedig om in die huwelik* te tree. Hy het sy ampsgewaad neergelê en die wens uitgespreek dat hy net “broer Andreas” genoem moet word. Hy het die kinderdoop* verwerp. In 1524 is hy uit Keur-Sakse verban. Met lewensgevaar het hy aan die boere-opstand ontkom en asiel in Sakse gekry. In 1529 het hy die land weer verlaat en by Zwingli* begrip gevind. Karl­stadt word in 1534 hoogleraar te Basel. Hy was ’n Bybelkundige soos min. Sy geaardheid het sterk na wettisisme* geneig en hy kan ’n voorloper van die puriteinse* leke-Christendom genoem word.

Vir verdere lees: HJ Jaanus 1959. “Karl­stadt” in: FW Grosheide en IT Itterzon, Chris­telijke Encyclopedie, deel 4. Kampen: Kok.

Sidebar