KÄSEMANN, ERNST

KÄSEMANN, ERNST (1906–1998) was ’n professor in Nuwe Testament* in Mainz, Göttingen en Tübingen. As lid van die Belydende Kerk in Duitsland het hy hom in 1937 skerp teen Nazïsme* uitgespreek.

Hy was ’n student van Bultmann* en het bekendheid verwerf vir aanpassings aan Bultmann se hipotese van “ontmitolo­gi­sering*”. Hy het die “nuwere navorsing oor die historiese Jesus*” ingelui, omdat die “Christus van geloof” sonder die historiese anker tot potensiële dosetisme* kan lei. Hy het hom uitge­spreek oor die Joodse* apoka­liptiek* as die “moeder van die vroeë Chris­ten­dom”, oor die geregtigheid* van God en die regverdigmaking* van die goddelose in die teologie* van Paulus* teenoor die sie­ning van ’n “immanente heils­geskiedenis”. Sy magnum opus was ’n kommentaar op Romeine*. Hy het gespesialiseer in die teo­lo­gie van Paulus en Johannes*2, en was as Nuwe Tes­ta­ment-teoloog uit die “Eksisten­sia­lis­tiese Skool” geïnspireer deur die werk van Schlatter, Bauer en Bultmann. Käse­mann het later bekend geword vir sy werk in die Wêreldraad van Kerke*, waar hy arti­kels gelewer het oor hermeneutiek*, ekkle­siologie* en die politieke implikasies van die evangelie*, bv in sy Jesus Means Freedom. In 1977 het hy die Lutherse Kerk* verlaat en ’n Metodis* geword ná ’n geskil oor die hantering van studenteprotes in Tübingen.

Vir verdere lees: D Guthrie 1981. New Testament Theology. Leicester: IVP. Hasel 1978. New Testament Theology: Basic Is­sues in the Current Debate. Grand Rapids: Eerdmans. NT Wright 1988. “Käsemann Ernst” in: SB Ferguson en DF Wright (red). New Dictionary of Theology. Leicester: IVP. PFM Zahl 1996. Die Rechfertigungslehre Ernst Käsemanns, doktorale proefskrif, Stuttgart: Calwer Verlag.

Sidebar