KASTEEL

KASTEEL. Die Kasteel de Goede Hoop was die eerste permanente fortifikasie aan die Kaap wat as ’n effektiewe militêre ves­ting beskou kon word. Dit is tussen 1666 en 1679 opgerig en het ook ’n unieke rol as administratiewe, wetlike, politieke, kommersiële, sosiale en kerklike setel gespeel. Die Kasteel het die tydelike Fort de Goede Hoop (1652) vervang. Dit is in ’n stervormige Nederlandse fortifikasie opgerig met vyf bastionne waarvan vier hoekstene op 2 Januarie 1666 gelê is – insluitende een deur die eerste permanente Suid-Afrikaanse predikant, Jo(h)an van Arckel*. Ná die uitmeting van die Kasteel in 1665 is ’n houtloods as werkwinkel en pakhuis opgerig, waarvan ’n gedeelte “tot een kerck gedestineerd” is. Dit is van Januarie 1666 tot die einde van 1677 vir kerkdoeleindes gebruik. Ds Van Arckel en die Khoekhoen-vrou Krotoa* (Eva*2) was onder die enkeles wat onder die loods se vloer begrawe is.

Die bouwerk aan ’n nuwe kommandeurs­huis met raadsaal tussen die Kasteel se bastionne Oranje en Leerdam is teen 1677 voltooi, waarna ’n meer geskikte kerk­ruimte ingerig is. Die oprigting van die Nieu­we Kat, ’n dwarsmuur oor die Kasteel se binneplein, het meegebring dat daar ’n nog geriefliker raadsaal gebou is waarin die eerste kerkdiens op 22 Mei 1695 gehou is. Hierdie derde kerkruimte in die Kasteel is vir meer as agt jaar as sodanig gebruik tot met die ingebruikneming op 6 Januarie 1704 van die eerste kerkgebou wat vir dié spesifieke doel in Kaapstad opgerig is. Die Kasteel neem gevolglik ’n pioniersplek in in die vestiging van die gereformeerde* geloof in Suid-Afrika en van die moedergemeente van Kaapstad.

Vir verdere lees: DJ Potgieter (red) 1970. Standard Encyclopaedia of Southern Africa (SESA) Deel III, Kaapstad. George Hofmeyr (hoofred) 2002. NG Kerk 350: Eenhonderd bakens in die geskiedenis van die Neder­duitse Gereformeerde Kerk, 1652–2002. Wellington: Lux Verbi.BM.

Sidebar