KASUÏSTIEK

KASUÏSTIEK handel oor die toepassing van algemene en prinsipiële reëls op besondere en konkrete gevalle in die praktyk. Vir elke geval (Latyn: casus) is daar ’n voorskrif. Hierdie voorskrif staan nie altyd in die Bybel* nie, maar word deduktief daaruit afgelei. Dit gaan dus oor die vraag hoe ’n mens met ’n goeie gewete behoort op te tree in gevalle waar daar nie ’n direkte gebod van God is nie. Anders as in die geval van situasie-etiek*, waar die gebod uit die situasie opkom, geld by die kasuïstiek dat die gebod aan die situasie voorafgaan.

Hierdie benadering is deur die eeue in mindere of meerdere mate deur verskeie teoloë voorgestaan en uitgewerk, soos bv deur Ambrosius*, Thomas van Aquino*, die Jesuïete*. By Protestante* is dit te vind by Perkins, Amesius* en Voetius*. Ander het die kasuïstiese benadering bevraagteken, soos Pascal*, Calvyn*, Barth*, Thielicke*, Velema* en Douma*.

Van die besware wat teen die kasuïstiek ingebring word, is die volgende: 1. Dit ont­ken die uniekheid en onvoorspelbaarheid van elke situasie (waarvoor onmoontlik voor­af reëls gemaak kan word). 2. Dit ontneem die indiwidu sy (gewetens)vryheid in Christus asook sy persoonlike verant­woordelikheid. 3. Dit openbaar ’n sterk wettiese en farisese in plaas van evangeliese karakter. 4. Dit vra (blinde) gehoorsaamheid aan meesal mensgemaakte wette in plaas van die gebod van God.

Vir verdere lees: J Douma 1980. Verant­woord handelen: Inleiding tot de Christe­lijke ethiek. Amsterdam: Ton Bolland. WH Velema 1990. Oriëntatie in de Christelijke ethiek. ’s-Gravehage: Boekencentrum.

 

Sidebar