KATEGESE

KATEGESE kom van die Griekse* woord vir “leer” of “onderrig”. In die Vroeë Kerk* is nuwe bekeerlinge, ter voorbereiding van hulle doop*, in die Christelike ge­loof en gebruike onderrig. Deur die doop het hulle deel geword van die geloofsgemeenskap.

In die algemeen is die bedoeling met kate­gese om iemand se geloof te verdiep. ’n Voorbeeld in die Nuwe Testament* is Pris­cilla en Akwila wat Apollos huis toe ge­neem het “en vir hom die leer van God nog duideliker gemaak” het (Hand 18:26). Van­dag ontvang persone gewoonlik van jongs af kategese met die oog op die aflê van openbare geloofsbelydenis.

Voorheen was kategese die geloofsgemeenskap se hoofaktiwiteit ten opsigte van kinders. Ander jeugwerk was net aanvullend. Vandag word jeugbediening* beskou as die oorkoepelende aktiwiteit van die kerk met jongmense. Onderrig in die ge­loof vorm ’n noodsaaklike onderdeel daarvan.

In die verlede was die oordra van kennis (van die Bybel*, belydenisskrifte* en kerk­ge­skiedenis*) die doel van kategese. Kennis sou gelowiges kweek. Kennis is steeds belangrik, maar daar word al hoe beter verstaan dat dit nie genoeg is nie. Kategese se doel word nou gesien as omvattende lei­ding om mense volgelinge van Jesus* te laat wees, toegerus met “lewenshulp” vir hulle totale lewe in die geloof. Geloofson­der­rig* is uiteindelik die verantwoordelikheid van die hele geloofsgemeenskap, en die predikant* en ouderling* het ’n besondere ampstaak om toe te sien dat dit op ’n bevredigende wyse geskied.

Sidebar