KATEGISMUS

KATEGISMUS is ’n ou kerklike woord vir die onderrig van katkisante, dit wil sê gedoopte jongmense of nuwe bekeerlinge wat belydenis van geloof wil aflê (vgl ons woord “kategese”). In ongeveer 100 nC het ’n boekie verskyn wat kortweg die Didache genoem word. Die doel was om diegene wat na die Christendom* oorgekom het en deur die doop* in die gemeente* op­ge­neem word, te vorm en te onderrig. Martin Luther* was die eerste een wat ’n skriftelike kategismus in die vorm van ’n boekie met vrae en antwoorde oor die Christelike geloof uitgegee het (1525). Ná hierdie klein kategismus het hy ’n paar jaar later ook sy groot kategismus laat druk. Luther se voorbeeld is deur talle ander Refor­ma­toriese (Kyk by: Reformasie/Hervorming) skrywers nagevolg. Johan­nes Calvyn* het bv nie minder nie as drie kategismusse geskryf. Later het selfs die Katolieke Kerk*, tydens die Kon­silie van Trente* (1566), ’n amptelike kategismus uitgegee. In die 20ste eeu het daar uit hierdie oord ook die sg “nu­we kategismus” gekom.

Alle kategismusse behandel basies dieselfde hoofsake wat Christene moet ken: die Twaalf Artikels*, die Tien Gebooie* en die Ons Vader*. Daarnaas is daar altyd ook ’n afdeling oor die sakramente*. Die be­kende Heidelbergse Kategismus* is daarvan ’n goeie voorbeeld. Kategismusse was dikwels meer as leerboeke; hulle is ook as amptelike Christelike belydenisse aanvaar.

 

Sidebar