KATERINA DIE GROTE (CATHERINE ALEKSEYEVNA)

KATERINA DIE GROTE (CATHERINE ALEKSEYEVNA) (1729–1796) was die dogter van die Duitse prins, Christian August von Anhalt-Zerbst en Johanna Eliza­beth von Holstein-Gottorp. Sy trou op 16-jarige ouderdom met Karl-Ulrich (Pieter III), kleinseun van Pieter die Grote* en neef van Elizabeth, heerser van Rusland.

Pieter III volg Elizabeth ná haar afsterwe op, maar vanweë sy pro-Pruisiese beleid neem die energieke en intelligente Kate­ri­na die regering ná ’n paar maande oor. Pieter sterf kort daarna in die tronk. Sy is keiserin van Rusland van 1762 tot 1796.

Katerina brei Rusland uit tot ’n magtige staat. Verskeie akademies vir die kunste en wetenskap kom onder haar regering tot stand. Binnelands pas sy ’n streng administratiewe hervormingsplan toe. Sy skryf ’n regsinstruksie (Nakaz) waarin sy die gelyk­heid van almal voor die wet bepleit. Hier­die mooi beginsels kry egter nooit in die praktyk gestalte nie. Sy was aanvanklik van plan om slawe te emansipeer, maar sien gou dat dit nie deur die eienaars (haar ondersteuners) geduld sou word nie.

Sy bevorder die Jesuïete*-beweging deur vir hulle skole op te rig, selfs teen die wil van die destydse pous*. Sy stuur ook sendelinge*, vergesel deur soldate, uit om afvalliges na die Russiese Ortodoksie* terug te bring. Daarteenoor het sy die Unitêre kerke onderdruk.

In haar persoonlike lewe word sy egter onthou vir die talle minnaars wat sy gehad het. Haar seun en opvolger, Paul I, is die seun van Sergius Saltykov, een van haar talle minnaars.

Vir verdere lees: Henri Troyat (vertaal deur Joan Pinkham) 1994. Catherine the Great. Londen: Penguin Books. I de Madariaga 1990. Catherine the Great. A short history. Londen: Yale University Press.

 

Sidebar