KATOLIEKE TEOLOGIE

KATOLIEKE TEOLOGIE. Anselmus* van Kantelberg (11de eeu) het ’n bruikbare definisie van teologie* gegee, gebaseer op dié van Augustinus* (5de eeu): “Teologie is geloof wat strewe om te verstaan” (fides quaerens intellectum). Hierdie definisie maak dit duidelik dat teologie op geloof* berus.

Katolieke teologie erken as ’n enkele bron die Heilige Skrif* en die Heilige Tradisie* van die Katolieke Kerk*. Deur middel van die leergesag (magisterium) van die Katolieke Kerk word die Woord* van God in die loop van die geskiedenis vertolk en toege­pas. Katolieke maak ’n onderskeid tussen Tradisie met ’n hoofletter “T” en tradisies met ’n kleinletter “t”, wat van ’n tydelike of plaaslike aard mag wees. Die Tradisie verwys na wat die Katolieke Kerk van die apostels* ontvang het en hoe dié kerk sigself in kontinuïteit met daardie oorlewering verstaan. Die Bybel* en die Tradisie is steeds in dialoog met mekaar. Die Tradisie mag die Bybel nie weerspreek nie en word self steeds deur die Bybel gevorm – sáám ver­kon­dig hulle die Woord van God. Hierdie leer is gebaseer op die feit dat God in Jesus* mens geword het. Dit is alles wat Jesus is en was, alles wat Hy gesê en gedoen en aan die apostels oorgelewer het, wat vir Katolieke die “Woord van God” is. Die leergesag is nodig om ’n outentieke vertolking van daardie Woord te verseker. Die leerstelling van sola scriptura (“alleen die Skrif”) van die Kerkhervormers* is vir Katolieke onaanvaarbaar. Kardinaal John Henry Newman (19de eeu) het daarop gewys dat, as ons sê dat God Homself in mensetaal uitgespreek het – ’n taal wat uiteraard vertolk moet word – maak dit alleen sin as Hy ook gelyktydig ’n leeramp daargestel het om die Bybel uit te lê en toe te pas. Die alternatief is dat daar soveel vertolkings is as wat daar mense is wat die Bybel lees, of minstens bepaalde tradisies wat die Bybel op ’n spesifieke manier weergee. Die leer van sola scriptura word, volgens Katolieke, ook nie in die Bybel aangebied nie. Die Bybel verwys na die kerk as die “draer en beskermer van die waarheid” (1 Tim 3:15).

Teologie is self nie onfeilbaar nie, omdat dit altyd ’n kind van sy eie tyd is en dus steeds opnuut deurdink moet word. Van­dag is die teologie bv veral daarvan bewus dat die stemme van dié wat voorheen geïgnoreer is, gehoor moet word, soos die stemme van armes en van vroue.

Belangrike faktore in die ontwikkeling van Katolieke teologie vandag is: 1. ’n Groter historiese insig en bewussyn wat ’n beter begrip van teologiese ontwikkeling meebring. 2. Die klem op die Bybel as die primêre bron van openbaring wat veral sedert die Tweede Vatikaanse Konsilie* bevorder is. 3. Die bydrae van die verskillende wetenskaplike dissiplines. 4. Die kom­munikasierevolusie wat die wêreld laat krimp het.

Die drie belangrikste kategorieë in Kato­lieke teologie is: 1. Fundamentele teologie wat die aanvanklike ontmoeting met God ondersoek. Dit behandel dus onderwerpe soos geloof, openbaring, God self, genade, en die mens in sy/haar verhouding tot hierdie werklikhede. 2. Onder die hoof sistematiese teologie bespreek Katolieke gewoonlik dogmatiek, sakramentele teologie, eskatologie en dergelike onderwerpe. 3. Die laaste hoofgroepering wat ontwikkel het, is pastorale teologie, ook soms praktiese teologie genoem. Die twee vernaamste aspekte van hierdie groepering is spirituele teologie, wat die verskillende maniere waar­op die geestelike lewe beoefen word, behandel, en morele teologie, of soos dit vandag al hoe meer genoem word, Chris­telike etiek. (Kyk ook: Katoliek, en: Kato­lieke Kerk.)

Sidebar