KEET, BAREND BARTHOLOMEUS (BENNIE)

KEET, BAREND BARTHOLOMEUS (BENNIE) (1885–1974), was van 1920–1959 aan die Teologiese Kweek­skool op Stel­len­­bosch verbonde waar hy die dogmatologiese vakke gedo­seer het.

Hy was een van die vyf vertalers van die 1933-vertaling van die Bybel* uit die grondtale in Afri­kaans* – die eerste Afrikaanse Bybel. Keet het reeds in 1914 op Stellen­bosch ’n voordrag oor die Bybel in Afri­kaans gelewer.

Keet was gedurende die jare van apartheid* in Suid-Afrika saam met prof Ben Marais* as ’n afwykende stem in die NG Kerk* beskou. In die stryd teen apartheid het Keet dit veral daarteen gehad dat apartheidsvoorstanders Bybeltekste nie binne konteks gebruik het nie. Hy het geargumenteer dat diegene wat voorstanders van hierdie politieke beleid was, nie die mense is wat daar­onder gely het nie. Hy was wel van mening dat ’n verdeling van Suid-Afrika tussen die verskillende bevolkingsgroepe Christelik verantwoordbaar sou gewees het, maar dan moes dit betyds en billik gebeur het – en daarvoor was die apartheidsbeleid honderd jaar te laat (vgl onder andere sy bydrae tot Vertraagde aksie, 1960). Keet se stem teen apartheid was hoofsaaklik mo­reel van aard. Hy was geen aktivis nie en het sy sienings op ’n beskeie manier hoorbaar gemaak.

Keet was een van die “dissidente*” na wie die NG Kerk lank nie geluister het nie, en toe daar uiteindelik aan hom en andere erkenning gegee is as “profete” in hierdie verband en hulle om verskoning gevra is – tydens die Algemene Sinode van 1994 – was hy reeds twintig jaar oorlede.

Sidebar