KENNIS VAN GOD

KENNIS VAN GOD. Die teologiese oortuiging dat dit moontlik is om kennis van God te bekom deur God se openbaring*, berus op die veel breër idee dat alle vorms van religieuse ervaring gewoonlik gepaard gaan met kennis van wie of wat ervaar word. Oor die algemeen kan religieuse kennis of oortuigings ontstaan as gevolg van daaglikse ervaring, mistieke belewenisse, of die oortuiging van ’n direkte openbaring van God. Vir Christene* in die algemeen is kennis van God direk verbonde aan die Goddelike openbaring in die Bybel* as Woord* van God. In die breër gereformeer­de* tradisie is hierdie spesiale openbaring van God direk verbonde met Jesus* Chris­tus* as Verlosser en hierdie spesifieke Skrif­tuurlike openbaring word dan ook die “bril” waardeur God se algemene openbaring in die natuur geken en geïnterpreteer kan word (Rom 1:19 en volgende verse). Die sistematiese ordening van wat dit mag beteken om God te leer ken in hierdie besondere of meer algemene sin, word dan teologie* genoem. Volgens hierdie perspektief is die teologie ’n metodologies verantwoorde besinning oor die omvang van ons menslike kennis van God en voorsien dit die Christelike gemeenskap van ’n kritiese analise van ons Godskennis. Volgens hier­die tipe “openbaringsteologie” word dus be­ves­tig dat kennis van God direk afhanklik is van Goddelike openbaring: God openbaar sigself in die geskiedenis van Israel* en van Jesus van Nasaret en ons as mense rea­geer in geloof* op hierdie normatiewe verlossingsgebeurtenis.

Sommige, soos Thomas Aquinas* in die Middeleeue en ’n gekompliseerde, lang tradisie van “natuurlike teologie” sedertdien, het geglo dat hierdie tipe openbaringsge­loof of “geloofskennis” in der waarheid volg op ’n aanvanklike natuurlike en rasionele vorm van Godskennis. Die gereformeerde tradisie as geheel, en in besonder die invloedryke openbaringsteologie van Karl Barth*, verwerp egter alle vorms van na­tuur­like teologie, en dus natuurlike Gods­ken­nis. In die mees ekstreme vorm sou dit lei tot die verwerping van alle vorms van reli­gie of godsdiens as menslike konstruksie. Hiermee sou egter ook ’n kloof ont­staan tussen geloof en kultuur* en in besonder tussen geloof en wetenskap (Kyk by: Wetenskap en Teologie/Godsdiens). In belang­rike vorms van eietydse teologie vind ons van­dag ’n verwerping van hierdie tipies modernistiese polarisering van kennis en opinie, wetenskap en geloof, natuurlike teologie en openbaringsteologie, ten gunste van ’n meer gebalanseerde visie op die spesifieke aard van, en die raakpunte tussen, teologiese kennis en wetenskaplike kennis. Op hierdie wyse word die oer-gerefor­meerde oortuiging herwin dat ons kennis van die wêreld eers volledig is wanneer ons ook God ken. (Kyk ook: Kennis.)

 

Sidebar