KENNIS

KENNIS verwys in die Christelike oorle­wering hoofsaaklik na ’n menslike eienskap. Die begrippe “kennis/insig” verkry ’n spesifiek-godsdienstige funksie wanneer van God se kennis sprake is en as van ’n mens* se kennis van God gepraat word. In die Ou Testament* en Joodse* oorlewering behels kennis van God in die eerste plek kennis van sy Woord*, wet* en verbond* (bv Ps 94:8-13; 119:65-68; Hos 4:6). Die spesifiek-Christelike dimensie bestaan daarin dat kennis van God se selfopenbaring Christologies* be­paal is: wie God is, word in Christus* duidelik (Matt 11:27; Joh 8:18-19; 14:6-7; 1 Kor 1:19-24, 2:2, 6-8). Daarom geld hierdie kennis as verligting deur God (2 Kor 4:6) en gawe* van die Heilige Gees* (bv 1 Kor 2:7-16). In hierdie konsepsie sluimer die gevaar van intellektuelle elitisme, wanneer Christene bv op grond van openbarings, die werking van die Heilige Gees, aanspraak maak op ’n besondere Goddelike insig. Sulke aansprake word in die Nuwe Testament* beveg (vgl 1 Kor 8:1-10; 13:2-12; 1 Tim 6:20), maar lei uiteindelik tot die ontstaan van die gnostiek*. (Kyk ook: Kennis van God.)

Sidebar