KERK EN SAMELEWING

KERK EN SAMELEWING. Beskouings oor die rol wat die kerk* in die samelewing behoort te speel, wissel van – aan die een kant – die beskouing dat die kerk geen direkte invloed in die samelewing behoort uit te oefen nie, tot – aan die ander kant – die beskouing dat die kerk ’n transformerende invloed in die samelewing behoort te hê.

Christelike groeperings wat ’n minderheidsposisie in samelewings beklee, neig dikwels daartoe om ’n sektementaliteit te openbaar. (Sekte* = afgesplitste geloofsgroep: HAT, 2005.) Hierdie sektementaliteit is veral sterk as sulke minderheidsgroepe ervaar dat hulle deur die staat* vervolg word, of dat hulle sosiaal gemarginaliseer word. Tipies van ’n sterk sektementaliteit is die oortui­ging dat die wêreld buite die kerk boos is, en dat Christene* dus so min as moontlik aan aktiwiteite buite die kerk moet deelneem. Veral deelname aan die politiek is onaanvaarbaar, omdat die staat noodwendig van geweld* gebruik maak. Deel­name aan wêreld­like aktiwiteite word nie as diens aan God beskou nie.

Hoofstroomkerke wat ’n meerderheids­posisie in samelewings inneem, huldig dikwels die standpunt dat die kerk die verantwoordelikheid het om ’n transforme­rende invloed op die samelewing uit te oefen. Veral die Katolieke* en gerefor­meerde* kerke was nog altyd daarvan oortuig dat dit deel van hulle Christelike roeping is om toe te sien dat die wet* van God ook in die samelewing eerbiedig word. Die verskil is dat die Katolieke Kerk van oordeel is dat die Godgegewe wet wat vir die samelewing geld, die natuurwet* is wat redelik insigtelik is. Die Katolieke Kerk beskou sigself egter as die “deskundige oor menslikheid” en het dus “die reg” om die beginsels wat in die samelewing eerbiedig behoort te word, voor te skryf. Gereformeerde kerke oordeel dat God se besondere openbaring in die Skrif* onontbeerlik is vir die kennis van sy wet. Lutherse* kerke neem ’n posisie tussen die onttrekkingstandpunt en die transformasie­standpunt in. Hulle oordeel dat God op twee verskillende maniere in die kerk en in die wêreld heers. In die kerk heers Hy deur genade* en liefde*, en in die wêreld deur ook van geweld gebruik te maak en oortreders te straf om orde te kan handhaaf. Die Christen-politikus moet daarom ook nie daarvan terugdeins om van geweld gebruik te maak as orde nie op ’n ander manier gehandhaaf kan word nie. Trouens, juis deur dit te doen, vervul hy/sy sy/haar Godgegewe roeping in hierdie wêreld.

Met die toenemende verselfstandiging en sekularisasie* van die verskillende sosia­le verbande, het veral die transformasie­beskouing van die Katolieke en die gereformeerde kerke onder druk gekom. Die skeiding tussen kerk en staat wat in liberale demokrasieë gehandhaaf word, maak dit bv vir regerings moeilik om gehoor te gee aan kerklike standpunte oor samelewingskwessies – veral as dit gepaard gaan met ’n beroep op die Bybel*. Dit plaas kerke wat ’n transformasiebeskouing handhaaf, voor die uitdaging om nuwe, aanvaarbare maniere te vind om aan hulle siening in die praktyk uitdrukking te gee. Hierdie uitdaging geld in ’n besondere mate in Suid-Afrika sedert die invoering van ’n li­berale grondwet in 1996.

Vir verdere lees: GG de Kruijf 1994. Waakzaam en nuchter: Over Christelijke ethiek in een democratie. Baarn: Ten Have. Kerk en samelewing, gepubliseerde verslag goedgekeur op die Algemene Sinode van die NG Kerk 1986 (hersien 1990).

Sidebar