KERK EN SENDING

KERK EN SENDING. In die Bybelse* tyd was daar geen onderskeid gemaak tussen kerk* en sending* nie. ’n Mens kan wel sê dat die kerk gegroei het deur die sending, maar dit is nie as ’n aparte aktiwiteit be­skou nie – dit was maar net die voortgang van die evangelie*. In die Middeleeue, toe die kerk gevestig begin raak het, en veral waar die kerk en staat in Europa aan mekaar gekoppel was, het daar ’n onderskeiding (selfs skeiding) begin ontwikkel tussen “kerkwerk” (die gewone gang van sake) en “sendingwerk” (die werk buite die sfeer van die “Christendom*”). Van die 12de eeu af het sendingordes in die Katolieke Kerk* die werk in die nie-Christelike dele van die wêreld begin doen. Volgens dieselfde patroon het daar van die laat 18de eeu af in die Protestantisme* ook sending­genootskappe* ontstaan wat hulle deur God gedring gevoel het om die werk in ander lande en in ander kulture te doen. Dit was maar eintlik in die middel 20ste eeu dat die teologiese besef weer sterk gegroei het dat sending tot die wese van kerk-wees behoort, dat die kerk (en elke kerk) in al sy vorms missionêr moet leef, omdat die kerk geroep is om as God se verteenwoordiger (getuie*) in die wêreld te leef. Dit beteken dat die kerk in eie omgewing, maar tot by die eindes van die aarde, werktuie van Gods geregtigheid* en liefde* moet wees.

 

Sidebar