KERK EN STAAT

KERK EN STAAT. Die siening van die verhouding tussen kerk* en staat* hang nou saam met historiese omstandighede. Gedu­ren­de die eerste eeue na Christus* het die kerk ’n minderheidsposisie in die Romein­se Ryk* ingeneem en kon dit geen invloed op die staat uitoefen nie. Die kerk moes wel ’n antwoord kry op die vraag in watter mate die gesag van die heidense* Romeinse staat erken moes word. Paulus* se antwoord in Rom 13 was dat selfs ’n heidense owerheid dienaar van God is en dat Christene hulle aan die gesag van die staat moes onderwerp. Ná die bekering van keiser Konstantyn* die Grote in die 4de eeu nC is die staat beskou as ’n Christelike staat wat aan God onderhorig is en sy wet moes gehoorsaam. Die vraag was alleen: Wie het die laaste sê as dit by die uitleg van God se wil vir die Christelike staat kom? – Die pous* of die keiser*? Hierdie vraag het die verhouding tussen kerk en staat vir eeue bepaal. Ná die Kerkhervorming* het die noue verbintenis tussen kerk en staat aanvanklik voortbestaan. Die gereformeerde* beskouing – soos dit in Artikel 36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis* tot uitdrukking kom – was dat die staat die plig het om die suiwer Woordverkondiging te beskerm en alle dwaallerings te bestry. (Wat onder meer die vraag opgeroep het: Wie moet bepaal wat “dwaalleringe” is – die staat of die kerk?) Die godsdiensoorloë wat voortgespruit het uit die feit dat sekere Europese state Prote­stantse* kerke en ander die Katolieke Kerk* as staatskerk erken het, het daartoe aanleiding gegee dat die liberale beskouing van die sekulêre staat mettertyd die oorhand in die Westerse wêreld gekry het. In baie state in die wêreld met ’n liberale grondwet (Suid-Afrika ingesluit), word daar vandag skeiding tussen kerk en staat gemaak. Die afleiding dat hierdie skeiding die godsdiens­neutraliteit van die staat impliseer (soos dit veral in die VSA gemaak is), word vandag egter toenemend bevraagteken. Daar is ’n groeiende konsensus onder teo­loë dat die staat wel onpartydig moet wees teenoor godsdienste, maar hulle moet toelaat om op ’n billike grondslag ’n openbare rol te speel. (Kyk ook: Mag.)

Vir verdere lees: J de Gruchy 1995. Christianity and Democracy, deel 2. Kaap­stad: David Philip.

Sidebar