KERK

KERK. Die Griekse* woord ekklesia word in Afrikaans* vertaal met “kerk”, “gemeente” of “huisgemeente”. Tydens Jesus* Christus* se aardse bediening het Hy dissipels* geroep wat Hom gevolg het. Sy bediening was hoofsaaklik op Israel* gerig, maar ná sy dood en opstanding* stuur Hy sy volgelinge na al die nasies (Matt 28:18-20). In die boek Handelinge* word vertel hoe die kerk stelselmatig oor die destydse Romeinse Ryk* versprei het. Die kerk het uiteindelik uit sowel Joodse* as nie-Joodse Christene* bestaan en is beskou as die voortsetting van die Ou-Testamentiese* volk van die Here*.

In die Apostoliese Geloofsbelydenis* word bely: “Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges”. Daarmee word kernaspekte ten opsigte van die kerk bely: dat die kerk een is/moet wees; deur Christus geheilig is en heilig* moet lewe; ten diepste bestaan uit diegene wat deur Christus verlos is en in Hom glo; en dat dié wat deur Christus geheilig is, saamgebind word tot ’n nuwe gemeenskap. In die Protestantisme* word verder ook drie “kenmerke” van die ware kerk bely, naamlik dat die Woord* van God suiwer bedien moet word; dat die sakra­mente* op die regte manier gebruik moet word, en dat die tug* behoorlik toegepas moet word.

In die verskillende Nuwe-Testamentiese* geskrifte kry ’n mens ’n aanvoeling vir die velerlei situasies wat die kerk in die Nuwe-Testamentiese tyd ervaar het: groei in getalle ten spyte daarvan dat die heidendom* afwysend teenoor die kerk gestaan het; worsteling met die Joodse erfenis (spesifiek die Joodse wet*) asook met die gebruike binne die heidense samelewing; soms interne spanning as gevolg van persoonlikheidsbotsings en leerverskille; en ernstige vervolging, veral in die tyd van keisers Nero* en Domitianus.

In die Nuwe Testament word verder ook verskillende perspektiewe op die kerk gebied. Afgesien van die aspekte wat in al die geskrifte genoem word (waarvan sommige hierbo vermeld is), staan bepaalde gedagtes in die besonder in sekere geskrifte voorop. So benadruk Mattheus* bv veral dat die kerk ’n gemeenskap van dissipels is wat gekenmerk word deur navolging van Christus. In Lukas* en Han­delinge* val die klem op die kerk as God se volk wat op weg is deur die ge­skiedenis. In Paulus* se hoofbriewe word die kerk gete­ken as die mense wat “in Christus*” is en deel het aan die liggaam van Christus. Die Pastorale Briewe (soos Timoteus*) beklemtoon dat die kerk God se ordelike huishou­ding is, terwyl Efesiërs* en Kolossense* weer fokus op die kerk in universele sin met Christus as Hoof van die liggaam. 1 Pe­trus* belig die feit dat die kerk ’n gemeenskap van uitgeworpenes is wat nogtans in Christus geheilig is en dus God se volk is. In Hebreërs* word die kerk geteken as God se volk wat op reis is na die hemelse rus, soos wat Israel* in die Ou Testament op reis was deur die woestyn. In Openbaring* word die kerk geteken as die gemeenskap van gelowiges* wat in die “laaste dae*” aanhou getuig, ten spyte van lyding en vervolging.

Sidebar