KERKBODE

KERKBODE, amptelike blad van die NG Kerk*, is in 1849 deur Abraham Faure* as De Gereformeerde Kerkbode gestig, was later De Kerkbode, nog later Die Kerkbode en, sedert 2003, net Kerkbode, met as motto: “Vandag se kerkkoerant vir vandag se kerkmense”. Dis die oudste steeds bestaande Afrikaanse* blad in Suid-Afrika en sy geskiedenis kan breedweg in vyf fases ingedeel word. Die eerste fase, met Faure redakteur, het sy aanloop in die stryd teen die liberalisme van die 19de eeu en verteenwoordig ’n behoudend-evangeliese aansluiting by die Skrif*. Die tweede fase, met PGJ Meiring*1 as redakteur, was ’n tyd van intense debatvoering oor Skrifgesag* tydens die saak teen Johannes du Plessis*. Die derde fase het saamgeloop met die opkoms van Afrikanernasionalisme* en, in die tyd van MJ van der Westhuizen* en AP Treurnicht*, pogings om apartheid* Skriftuurlik te begrond. Die vierde fase hang saam met die NG Kerk se getuienis oor Skrif en Skrifgesag en Kerk en samelewing (beide 1986), die verwerping van apartheid, soeke na vereniging in die NG Kerkfamilie*, en die oorgang na ’n nuwe staatsbestel. In die vyfde fase openbaar die kerk en sy blad ’n meer akkommoderende, verdraagsame aanslag, ’n groter aarseling om oor alles en nog wat sterk en “finale” uitsprake te maak. Kerkbode het in sy iets meer as 165 jaar 22 redakteurs gehad – drie van hulle was nie predikante nie, en een, Adri-Louise van Renen-Fourie*, ’n vrou –  met ’n sirkulasie wat gewissel het tussen 10 000 en 50 000, en ’n invloed wat soms baie meer was as wat sy versprei­dingsyfer laat vermoed.

Vir verdere lees: André Olivier 1998. Bode op die spoor van die Woord: 150 jaar met Die Kerkbode. Kaapstad: Lux Verbi.

 

Sidebar