KERKGEBOU

KERKGEBOU. In die Ou Testament* is daar sprake van verskillende plekke van God se toenadering tot sy volk: die tabernakel*, die tent en die tempel*. Die tempel het iets van die teenwoordigheid en die verborgenheid van God beliggaam. Ons erediens* gryp terug na die Joodse same­komste in die sinagoge*. Die Here* Jesus* het die gewoonte gehad om op die sabbat* die sinagoge te besoek en het dikwels daar gepreek. In die Nuwe Testament* was die huise die saamkomplek van die gemeente*, al het die gelowiges volhard om “brood te breek” in die tempel (Hand 2:24b; 20:7-8).

In Rome* was daar tot in die 5de en 6de eeu “huiskerke*”. Nie lank ná die Edik van Milaan* in 313 nie, het die gebruik van ’n groter publieke ruimte as kerk ontstaan. In elke tydperk (Bisantynse tyd, Middeleeue, Renaissance*, Reformasie*, ens) het die kerkgebou ’n eie unieke karakter. In die Reformasie (Kerkhervorming*) staan die kansel* sentraal met die klem op die Woord*. Verskillende bouvorms het in Suid-Afrika ontwikkel.

Die kerkgebou is ’n plek van viering, ontmoeting en diens. Dit is ook die plek waar God se Woord verklaar word en in die bestaan van mense neerslag vind. Die sakramente* as tekens en simbole moet só sigbaar wees dat dit die gemeente* kan herinner aan God se heil*. In die kerkgebou behoort daar ook plek te wees vir die estetiese en simboliese.

Sidebar