KERKGESKIEDENIS

KERKGESKIEDENIS as teologiese vak handel oor die vestiging, groei en uitbrei­ding van die Christelike kerk*, in al sy verskeidenheid op alle plekke en tye, in die totale era ná die hemelvaart* van Christus* en die uitstort van die Heilige Gees* op Pinksterdag*. Wisselvorms wat soms vir hierdie vak gebruik word, is ekklesiologie (wat egter vatbaar is vir misverstand vanweë die dikwels dogmatiese gerigtheid van die term), en geskiedenis van die Chris­tendom (wat geneig is om te fenomenologies geöriënteerd te wees). Kerkgeskiedenis en kerkgeskiedskrywing word op verskillende maniere deur vakgenote gedefinieer. G Ebeling* sê dat dit die geskiedenis van die uitleg van die Woord* in die breë sin van die woord is, en O Kalu* sê dat dit die geskiedenis van die pelgrimmense van God is. Een van die vroegste kerkgeskiedskry­wers was Eusebius* van Sesarea. Behalwe vir die feit dat hy biskop* van Sesarea was, was hy ook ’n grondlegger van kerkgeskiedskrywing. Sy Historia Ecclesiastica bevat ’n besondere oorsig oor die kerkgeskiedenis in die vroegste tye. As akademiese vak wat sedert 1650 by universiteite gedoseer word, word kerkgeskiedenis beskou as deel van die klassieke groep van teologiese vakke wat vir die teologiese student gedoseer behoort te word. Behalwe vir bepaalde chronologiese indelings soos die Vroeë Kerk*, Middeleeue, Reformasie* en mo­derne kerkgeskiedenis, kan die vak ook volgens inhoud ingedeel word, soos bv patristiek, dogmageskiedenis, sen­ding­geskiedenis en kerkreg.

Sidebar